Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende motorman, vrou sterf toe hulle van krans afry

Vriende het met skok en ongeloof toegekyk hoe een van die grootste motorversamelaars in die land, Louis Coetzer (71), en sy vrou, Hermien, in hul bakkie by ’n krans in die Naudésnek-pas aftuimel.

Die egpaar van Bloemfontein het Dinsdag omstreeks 14:00 op die pas tussen Maclear en Rhodes in die Oos-Kaap verongeluk. Hulle is op slag dood.

In ’n video van die ongeluk skreeu ’n vrou in ’n bakkie agter hulle van skok toe die Coetzers se bakkie skielik oor die afgrond ry.

Louis en Hermien Coetzer van Bloemfontein wat Dinsdagmiddag op die Naudésnek-pas by Barkly-Oos in die Oos-Kaap verongeluk het. Hulle was besig om 'n 4x4-roete uit te sit toe hul bakkie skielik oor ’n krans gestort het. Dié egpaar was albei baie lief vir 4x4-roetes. Foto: Verskaf

Hulle was glo besig om ’n 4x4-roete in die omgewing uit te sit toe hul Toyota-bakkie se linkervoorwiel op los gruis gegly en hulle sowat 100 m van ’n krans afgery het.

Nic Meyer, ’n goeie vriend, sê hy vermoed dat Louis ’n hartaanval of breinfloute gehad het. “Ons het nie vinnig gery nie, die pad was nie nat nie. Hy het net by die krans afgery. Hy het nie eens remme aangeslaan nie.”

Meyer en Louis ry al meer as sewe jaar saam 4x4-roetes en hy sê sy vriend was nog altyd ’n uitstekende en versigtige bestuurder.

Meyburgh Erasmus van Molteno in die Oos-Kaap, ook ’n Mercedes-Benz-versamelaar, sê die motorversamelaarsbedryf het ’n reuse-mentor verloor.

“Soos uncle Joshua van Joshua Doore ’n uncle vir die land was, was Louis Coetzer almal in die veteraan-motorbedryf se uncle.

“Louis was beslis die grootste Mercedes-Benz-versamelaar in die land en een van die grootstes ter wêreld.”

Erasmus sê met die 300 tot 400 motors in sy versameling in Bloemfontein was Louis sekerlik ook een van die grootste veteraanmotor-versamelaars ter wêreld. Meer as 100 daarvan was ou Mercedes-Benz-motors, maar sy groot liefde was Chevrolets, veral die Chevrolet Impala.”

Sy liefde vir mooi motors het al in sy kinderdae begin en hy het ook ’n groot Dinky Toys-versameling gehad, het hy in 2014 in ’n onderhoud op die kykNET-program Kwêla gesê. Ná matriek het hy die speelgoedkarretjies vir regte karre verruil.

Louis Coetzer het tussen 300 en 400 veteraanmotors in sy versameling gehad. Daarvan was meer as 100 van die skaarsste en mooiste ou Mercedes-Benz-motors in die wêreld. Hier is van die ou motors. Foto: rmi.org.za

Fanie du Preez, voorsitter van die Mercedes-Benz-versamelaarsklub in die sentrale streek, sê die egpaar se dood laat ’n groot leemte in nasionale en internasionale motorversamelaarskringe.

“Louis was ’n vriendelike man wat altyd vir enige mens tyd gemaak het. Hy en Hermien was albei vreeslik lief vir die 4x4-uitstappies.”

Hoewel dit ’n grusame ongeluk was, sê Du Preez, moes die egpaar “saam uittree”.

“Die een sou nie sonder die ander kon aangaan nie. Hulle was baie lief vir mekaar en dit sou vir hulle erger gewees het as die een sonder die ander moes oorleef.”

Hulle word oorleef deur drie kinders en vyf kleinkinders.


Meer oor:  Louis Coetzer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.