Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende sakeman, suster dood in heli wat in Vaaldam val
Jacobus ‘Essie’ Esterhuysen, wat as ’n ervare en veiligheidsbewuste vlieënier beskryf. Foto: Verskaf

Jacobus "Essie" Esterhuysen het sy suster Dané Esterhuysen Vrydag laatmiddag met sy helikopter vir ’n bederf-kuier na sy huis by die Vaaldam gevlieg.

Sy het van Wildernis in die Wes-Kaap, waar sy haar broer se gastehuis bestuur, vir hom en sy vrou, Mariana, in Bassonia, Johannesburg, kom kuier.

“Mariana het nog gesê hulle twee moet hulself gaan geniet,” vertel Elsa van Zyl, Esterhuysen se skoonsuster.

Soos altyd was sy “twee skaduwee’s”, die Beagle-honde Pablo en Abigail (Abby), saam in die Robinson R44-helikopter.

“Hulle het oral saamgegaan. Essie (69) het tot vir hulle spesiale harnasse gemaak vir wanneer hulle vlieg,” voeg Van Zyl by.

Vriende van Esterhuysen, wat gereeld saam in die Vaaldam-huis by Vaal Marina in Gauteng kuier, het hulle ingewag, want die helikopter het ’n landingsplek daar gehad.

Dané EsterhuysenFoto: Verskaf

“Essie het altyd net gegee en gegee en het graag mense by die dam trakteer. Dit klink of die vriende buite staan en wag het op Essie en Dané. Hulle sê die helikopter het nog nader beweeg om te kom land, en toe val dit net. In die dam. Reg voor die huis.

“Dit was verskriklik,” sê Van Zyl.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die helikopter, wat vroeër van die Randse lughawe naby Germiston opgestyg het op pad na die Vaaldam, het skaars 200 m van die oewer af die water ingestort.

’n Omstander het met ’n roeiboot soontoe gegaan en Dané se liggaam gevind.

Sy is op die toneel dood verklaar.

Essie het altyd net gegee en gegee en het graag mense by die dam trakteer. Dit klink of die vriende buite staan en wag het op Essie en Dané. Hulle sê die helikopter het nog nader beweeg om te kom land, en toe val dit net. In die dam. Reg voor die huis.

Lambinon sê die lugvaart-reddingskoördinasiesentrum het die NSRI-Vaaldam, die polisie en nooddienste ontbied.

Die polisieduikers het met die hulp van die NSRI die wrak onder water asook die omliggende area deursoek en kon Esterhuysen se lyk Vrydagaand teen 21:30 uitkry.

Die honde, wat albei dood is, kon teen die middag nog nie uit die wrak verwyder word nie.

Daar is later Saterdag besluit om eers die helikopter uit die water te kry met die hulp van lugsakke en ’n ander helikopter.

Op ’n pier het Esterhuysen se seun en enigste kind, Marius, die soektog en herwinningsproses stil saam met ’n vriendin dopgehou.

Lugsakke is ingespan om die helikopterwrak uit die Vaaldam te lig. Foto: Verskaf
Die NSRI en lede van die polisie se watervleuel bring Essie Esterhuysen se helikopter na die oewer. Foto: Verskaf
Die blou helikopter lyk op die oog-af ongeskonde, behalwe vir die geknakte skroef. Foto: Verskaf
Die helikopter waarin Essie Esterhuysen en sy suster, Dané, asook sy twee honde dood is, word op die Vaaldam se oewer ondersoek. Foto: Verskaf
Essie Esterhuysen se seun, Marius, en ’n vriendin, wag op die oewer terwyl reddingswerkers na die helikopterwrak en oorskot van sy pa se geliefde honde soek. Foto: Verskaf
Die uitsig van Essie Esterhuysen se Vaaldam-huis. Die helikopter het glo hier naby in die water gestort. Foto: Verskaf

Hy het sy naweekplanne kortgeknip toe hy van die tragedie hoor en op die oewer gewag dat sy pa se helikopter uit die watergraf gelig word.

’n Paar ure later het dit op droë grond gestaan, geknakte lemme op die oog af die enigste skade.

“Marius het ook onlangs sy vlieglisensie gekry. Hy sou die naweek Clarens toe gaan, maar het omgedraai,” vertel Van Zyl.

Sy en ander mense na aan Esterhuysen sê hy het gereeld gevlieg, hetsy met die helikopter of sy vliegtuig.

“Hy was ’n baie ervare en veiligheidsbewuste vlieënier.”

Nadia Brits, nog ’n familielid, sê almal het Esterhuysen as (Oom) Essie geken.

“Hy was ’n merkwaardige man. Daar was niks wat hy nie kon doen nie. Uitstekende sakeman, met soveel wysheid en vaardighede om ander te leer.”

Net soos Van Zyl, beskou sy hom as een van die mees gasvrye mense wat sy ken.

“Hy het daarvan gehou om mense te onthaal, te bedien en op die hande te dra. Hy laat sonder twyfel ’n groot leemte in die lewe van almal met wie hy in aanraking gekom het.”

Sy vertel Esterhuysen was ’n “briljante” vlieënier.

Hy was ’n merkwaardige man. Daar was niks wat hy nie kon doen nie. Uitstekende sakeman, met soveel wysheid en vaardighede om ander te leer.

“Hy was super-versigtig en het nooit kanse gevat nie. En sy twee honde het altyd saamgevlieg. Hulle was mal daaroor.”

Esterhuysen was die eienaar en besturende direkteur van die Esgro-groep, ’n onderneming wat eetplek-franchises soos onder meer die Wimpy, Steers en Woolworths Food by vulstasies begin het.

Dané se dogter, Géla le Roux, is die voormalige Mev. Suid-Afrika 2018. Sy het Saterdagoggend hartroerend op haar Facebook geskryf: “My liefste Moeder... “Ek sal vir altyd Ma diep binne my hart dra!! My woorde is min en trane vlak. Ek is lief vir Ma en sien uit vir die dag wat ons weer eendag sal ontmoet.

“Dankie vir die wonderlike ma en ouma wat Ma vir ons was. ’n Rots, steunpilaar en anker wat alles aanmekaar gehou het. ’n Sterk vrou met ’n sagter hart. Ons het soveel kosbare tyd saam.

“Rus sag, my Moederlief”.

Dané word ook oorleef deur ’n seun wat self in die restaurant- en gasvryheidbedryf is.

• Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), sê die ongeluk het naby Sunset Cove gebeur.

“Ons ondersoek die ongeluk waarin twee mense dood is. Inligting word reeds ingesamel in ’n poging om die oorsaak van die ongeluk te bepaal,” sê hy.

Die polisie het ook reeds ’n geregtelike ondersoek geopen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.