Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende VS-finansvrou oorlede

Die legendariese afgetrede provinsiale rekenpligtige generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, Anna Fourie (62), het Maandag om 03:00 in haar huis in Pellissier, Bloemfontein gesterf.

Anna Fourie met haar getuienis verlede Augustus voor die Zondo-kommissie. Foto: Lebohang Lekoatsa
Fourie, wat in Augustus verlede jaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oor die Vredesuiwel-projek getuig het, het aan kanker en diabetes gely. Haar laaste hospitaalopname was vir nierversaking.

Huldeblyke stroom in ná haar dood en Ben van Niekerk, afgetrede ouditeur-generaal (OG) van die Vrystaat, het gesê hy het jare saam met haar gewerk. Hy het haar beskryf as onkreukbaar. Haar werk was altyd reg en sy was 100% eerlik.

“Ons het nou saamgewerk. Sy was lank die betaalmeester-generaal van die provinsie en ek het daar geoudit.

“Sy het ook ’n groot rol by die Vrystaatse munisipaliteite gespeel en hulle met raad en daad bygestaan. Sy was een van die beste amptenare wat die provinsie nóg gehad het.”

Haar getuienis voor die Zondo-kommissie het hom baie beïndruk en hy het dit as baie eerlik bestempel.

Willem Opperman, ’n ouditeur en vriend in Bloemfontein, het gesê Fourie was ’n goeie en hardwerkende mens. Sy was ’n diep Christen en haar dood gaan ’n groot leemte laat.

Louis, haar seun, het gesê sy ma was ’n baie besonderse mens met ’n hart van goud, wat geweldig gemis gaan word.

Rossouw Botes, DA-raadslid, wat haar 30 jaar lank geken het, het gesê haar dood is ’n groot skok en ’n verlies vir die samelewing.

Sy het ’n breë kennis van finansies gehad en was ná haar aftrede in 2018 baie by gemeenskapsaangeleenthede in Pellissier betrokke.

Fourie het voor die Zondo-kommissie getuig hoe sy laatmiddag op 15 Junie 2012 deur ’n hoë amptenaar van ’n afskeidsgeselligheid af gebel is.

Die opdrag was dat R30 miljoen dadelik aan die Estina-maatskappy vir die suiwelprojek betaal moes word. Sy moes die betaling prosesseer, terwyl daar geen dokumente ter ondersteuning van die opdrag was nie en geen tenderprosesse gevolg is nie.

Netwerk24 het op 30 Junie 2018 met haar aftrede ná 39 jaar berig dat sy op ’n afskeidsgeselligheid geloof is vir die opperste toewyding wat haar loopbaan gekenmerk het.

Kollegas het haar vir haar geloofwaardigheid en integriteit geëer.
Staaltjies is vertel van hoe haar motor soms tot vier nagte ná mekaar by die regeringsgebou gestaan het, terwyl dié perfeksionis deurnag gewerk het om te verseker dat die regering se boeke klop.

Kollegas het haar vir haar geloofwaardigheid en integriteit geëer.

Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, haar enigste kollega wat haar op haar voornaam aangespreek het, het haar toe geprys vir die kaliber mens wat sy is.

Sy word oorleef deur haar man, Henk, seun, Louis, skoondogter, Juan-Marie, en kleindogter, Lou-Marie.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Anna Fourie  |  Kapung Ralikontsane  |  Vrystaat  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.