Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekendes hou ooievare besig

Die liefling-egpaar van Afrikaanse romantiese rolprente, Ivan Botha en Donnalee Roberts, se eersteling is op pad.

Donnalee Roberts en Ivan Botha se eersteling word volgende jaar gebore. Hier is hulle op hul troudag in Mei saam met Ivan se dogtertjie uit sy eerste huwelik, Amélie. Foto: Aglow Photography

Die paartjie, onder meer bekend om rolprente soos Stroomop (2018) en Vir altyd (2016), is in Mei vanjaar getroud en hul baba word glo rondom Maart volgende jaar verwag.

Roberts het Vrydag aan Rapport gesê haar swangerskap is “nog nie halfpad nie” en sy werk nog net so hard soos voorheen.

Aan Sarie.com het sy gesê sy droom al haar lewe lank daarvan om ’n ma te word.

'Donnalee is gebore om ’n ma te wees.’

Botha, wat reeds ’n dogtertjie, Amélie, uit sy eerste huwelik het, sê hy kan nie wag vir die nuwe hoofstuk in hul lewe wat volgende jaar begin nie. “Ek is verlief op die gedagte om ’n baba saam met die liefde van my lewe te hê. Donnalee is gebore om ’n ma te wees.”

Donnalee en Ivan se baba is egter net een van verskeie bekendes se babas wat binnekort verwag word.

Nog bekendes wat in 2020 deur die ooievaar besoek word, is die sanger Heinz Winckler en sy vrou, Aletté, ’n voorkomskonsultant.

Rolene Strauss is ook swanger met haar tweede kind, wat in Februarie gebore word. Foto: Facebook

Hulle verwag ’n sussie vir hul drie seuns, Lian (9), Simeon (7) en Reuben (5), in Januarie.

Die Wincklers het ook reeds op die naam Alannah besluit.

Sy sê Heinz glimlag van oor tot oor vandat hulle gehoor het dis ’n dogtertjie.

Die aktrise Roeline Daneel, Elsabé Daneel se dogter, se eerste baba word einde September gebore. Foto: Mia Liebenberg

“Ons was die naweek by ’n troue en daar het ek gesit en kyk hoe hy met vriende van ons se dogtertjies dans. Hy is so ’n sagte pa, wat vreeslik omgee. Ek dink dit gaan vir hom baie lekker wees om ’n dogtertjie te hê.”

Nóg iemand wat hoop dat sy pienk klere sal kan koop, is ons gewese Mej. Wêreld Rolene Strauss, wie se tweede baba in Februarie gebore word.

Volgens Strauss is haar en haar man, D’Niel, se seuntjie wat in Januarie drie word, oortuig dit is ’n sussie. Dis egter nog nie ’n uitgemaakte saak nie.

Die Wincklers is baie opgewonde omdat hulle volgende jaar ’n dogtertjie in die familie verwelkom. By Aletté en Heinz is van links Simeon (7), Lian (9) en Reuben (5).

“Die dokter was aanvanklik oortuig dat dit beslis ’n dogtertjie is, maar met die laaste besoek het hy weer gesê dit lyk nou soos ’n seuntjie,” sê Strauss en lag.

“Ons het klaar pienk linte vir die spoegdoeke gekoop, maar nou wag ons maar eers.”

En hoewel die ooievaar besig gaan wees in 2020, het hy nog ’n paar draaie om in 2019 ook te maak . . .

In Oktober word Erica Wessels (Dwaalster, Erfsondes) se dogtertjie gebore.

“Ek en Willem (Boshoff, haar man) is op 41 en 43 onderskeidelik ouer ouers en ek dink die pluspunt daarvan is dat ons al êrens langs die pad die les van ‘oorgee’ en ‘laat gaan’ geleer het . . . En ek is doodseker daai les gaan in ouerskap weer en weer opkom,” sê sy laggend.

“Ons sien vreeslik uit om haar te ontmoet en het geen idee wat om te verwag nie. Ek hoop ek sal rustig en instinktief wees.”

Iets waarvoor Erica dankbaar is, is dat haar vriendin die aktrise Roeline Daneel (Arendsvlei, Ander mens) se dogtertjie omtrent twee weke voor haar dogtertjie in September gebore word.

“Dis lekker om iemand te hê om alles wat jy ervaar mee te bespreek,” beaam Roeline. Sy is die aktrise Elsabé Daneel (Alles Malan) se dogter en dis ook Elsabé se eerste kleinkind.

Elsabé sien baie uit na die koms van haar eerste kleinkind en sê dat kinders nog altyd een van die groot liefdes van haar lewe was.

“Klein mensies is so suiwer en ongeskonde en dis net ongelooflik om goed saam met hulle te beleef.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Heinz Winckler  |  Donnalee Roberts  |  Roeline Daneel  |  Rolene Strauss  |  Ivan Botha  |  Babas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.