Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Belang van lees, boeke onder loep

58% van huishoudings in Suid-Afrika het geen boeke of leesstof in die huis nie, wat daartoe lei dat studente erge konsentrasieprobleme ervaar en met ’n beperkte woordeskat moet klaarkom.

Só het Ingrid Steyn van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Engels-departement Woensdag op Wêreldgeletterdheidsdag gesê.

Hulle doen navorsing oor studente se geletterdheid en kom op morbiede feite af.

“Navorsing toon die meeste jong mense het nie eens ’n Huisgenoot of You nie; nie ’n koerant, National Geographic, niks nie.”

Kinders word groot sonder dat iemand ooit vir hulle ’n goeienagstorie lees, sê sy, en hulle sien nie ’n volwassene wat koerant lees nie.

Boeksakke en boeke is by talle skole in en rondom Somerset-Oos uitgedeel in aanloop tot Wêreldgeletterdheidsdag wat Dinsdag gevier is. Hier is ’n onderwyser en leerlinge van die Nonwakwazi Primary School in Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Foto: Theo Kemp

Voorts lees net 14% van mense ’n boek vir plesier.

Dít, sê sy, maak dat hulle nie boeklees as ’n positiewe ervaring sien nie.

Andries van Wyk, wat by die departement van korrektiewe dienste in Pretoria werk, sê hy soebat gereeld sy kinders om nie dieselfde fout as hy te maak nie.

“Ek het in st. 9, oftewel gr. 11, gedruip omdat ek nie kon lees nie. Korreksie, lees gehaat het. Gelukkig het ek my matriek voltooi. Ná skool is ek gevangenisdiens toe.

“Op torings was dit vrek vervelig en het ek Afrikaanse en later Engelse romans begin lees.”

Vandag wens hy hy kan kinders vertel dat as jy nie kan lees nie, kan jy nie leer nie, kan jy nie ’n vraestel invul nie, want dit verg te veel leeswerk.

Ingrid Steyn, fasiliteerder by die Engels-departement van die Universiteit van die Vrystaat (UV), saam met die eerstejaarstudente van 2018. Van links is Boitumelo, Queenie, Steyn en heel voor is Welma. Die studente se vanne was nie beskikbaar nie.
Boeksakke en boeke is by talle skole in en rondom Somerset-Oos uitgedeel. Hier is leerlinge van die Primêre Skool Pearston. Foto: Theo Kemp

Hy vertel as hy as leerling ’n paragraaf klaar gelees het, het hy geen benul gehad wat daarin staan nie.

Die antwoord, volgens Steyn, is om ’n voorbeeld te stel.

“Ek het (voor Covid) gesorg dat ek altyd ’n lekker boek voor in die klas op my tafel het, dat hulle sien ek geniet dit.

“Ek praat positief oor lees, gee lyste uit van goeie en lekker boeke wat moontlik hul belangstelling sal prikkel.”

Theo Kemp van die Jakes Gerwel-stigting vertel hulle het met die organisasie Book Dash hande gevat en in die afgelope week 9 000 boeke en boeksakke aan 3 000 gr. 1- tot gr. 3-leerlinge in Somerset-Oos, Cradock, Cookhouse, Pearston, en die hele gebied onder die Blue Crane Route-munisipaliteit voorsien.

Hy sê hulle het drie jaar gelede met die projek begin en brei na al hoe meer dorpe uit.

“Dis erg om te sien hoe uitgehonger die kinders vir stories is en hoe baie skole geen boeke het nie.”

Meer oor:  Universiteit Van Die Vrystaat  |  Boeke  |  Lees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.