Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beloftebos sê nee vir gay-beloftes

’n Kaapstadse paartjie kan nie hul troubeloftes aan mekaar by die gewilde troue-venue Beloftebos maak nie omdat hulle gay is.

Megan Watling en Sasha-Lee Heekes Foto: Facebook

Al wat hulle vra, is om soos enige ander persoon met waardigheid en respek behandel te word, sê die paartjie, Megan Watling en Sasha-Lee Heekes.

Die paartjie het onlangs op Facebook geskryf dat hulle deur die eienaars van Beloftebos op Stanford in kennis gestel is dat Beloftebos “vanuit ’n persoonlike geloofsoortuiging nie gasheer kan wees vir troues tussen paartjies van dieselfde geslag nie”.

Dié venue was in 2017 weens dieselfde rede in die nuus toe ’n gay paartjie, Alex Thorne en Alex Lu, ook moes hoor dat hulle nie op Beloftebos kon trou nie weens die eienaars se geloofsoortuigings.

Watling sê sy en Heekes het so ’n wonderlike ontvangs van hul verlowing gekry, maar moes daarna hoor dat hulle nie in Beloftebos kan trou nie omdat hulle ’n gay paartjie is.

“Aanvanklik het ek gehuil, maar toe was ek oorweldig van woede,” skryf sy op Facebook.

Heekes skryf verder dat Beloftebos se persoonlike oortuiging en vrese nie moet swaarder weeg as hul reg op menswaardigheid nie.

“Hoe is dit in 2020 nog ’n werklikheid? Huwelike van dieselfde geslag is sedert 2006 wettig in Suid-Afrika, maar tog glo mense steeds dat hulle haat en dwepery kan regverdig en ’n God aanhaal wat ek nie glo gesê het dat hy vir haat en verkramptheid staan nie.

“Ons vra nie dat iemand ons liefde goedkeur of selfs aanvaar nie, maar ons verdien dit om met waardigheid en respek behandel te word, net soos enigiemand anders.

“Ek pleit dat u nie besighede ondersteun wat nie glo dat liefde in alle vorme voorkom nie.”

Heekes skryf verder dat Beloftebos se persoonlike oortuiging en vrese nie moet swaarder weeg as hul reg op menswaardigheid nie. “Jy mag dalk sê ‘Waarom kry julle nie net ’n ander venue nie, waarom skop julle so ’n bohaai op?’, of selfs ‘dis maar hoe die wêreld werk’.

“Jy verstaan miskien nie die seer wat ek ervaar nie, en hoe moedeloos ek is dat sulke vooroordele sonder enige vrae bestaan nie. Maar Beloftebos se denkwyse is een van die vele rimpelings wat uit oortuigings en ideologieë oorgebly het wat bygedra het dat die mensdom ’n groot onreg aangedoen is. ’n Vooroordeel is ’n vooroordeel, ongeag die grootte daarvan.”

Coia de Villiers, eienaar van Beloftebos, het navrae verwys na Michael Swain, uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa, ’n drukgroep sonder winsbejag wie alle regte vir godsdiensvryheid vir alle Suid-Afrikaners beskerm.

Swain sê Beloftebos respekteer die paartjie se reg om te trou en hul huwelik te vier. Beloftebos voer egter aan dat hulle nie gedwing moet word om aan so ’n viering deel te neem as dit teen hulle Christelike geloof indruis nie.

“Ons leef in ’n Grondwet waar ons verenig is in ons diversiteit. Een reg laat nie ’n ander reg verdwyn nie.”

Hy sê die eienaars van Beloftebos is déél van die troue en span hul talente en kreatiwiteit vir elke troue in. “Al wat hulle vra, is dat hulle reg waarin hulle glo, dit wat die Bybel hulle oor ’n huwelik leer, dat dit tussen ’n man en ’n vrou gerespekteer moet word.”

Hy sê mense is geregtig om ’n diversiteit in oortuiging te hê solank as wat dit wettig is.

Die paartjie sal byvoorbeeld hul verjaarsdag of enige ander herdenking hier kan vier – net nie ’n troue nie, sê hy.

Meer oor:  Sasha-Lee Heekes  |  Megan Watling  |  Beloftebos  |  Troudag  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.