Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bende-eenheid skiet glo op gesin se hond

’n Gesin van Bonteheuwel, Kaapstad, is woedend nadat lede van die polisie se bende-eenheid glo Sondag in ’n klopjag vermoedelik met rubberkoeëls op hul honde geskiet het.

Ashley Adams, ’n elektrisiën van Bonteheuwel, sê die polisie het Sondagoggend net ná kerk op hul huis toegesak oomblikke nadat bendes op mekaar begin skiet het.

Hul hond, Skyler, ’n rottweiler-kruising, was vasgebind toe die klopjag uitgevoer is.

Skyler, die rottweiler-kruising, wat na bewering deur lede van die bende-eenheid geskiet is.

Volgens Adams het die polisie inwoners hardhandig en onbeskof behandel. “Ek het op my kooi gelê toe die polisie instorm. Hulle het verskeie huise in die gebied kom skud en ons huis was ook een.”

Volgens hom het hy die polisie toegelaat om die perseel te deursoek, maar toe hy by sy voordeur uitstap, het hy gesien hoe een van die polisielede Skyler skiet.

“Ek het nog beswaar gemaak, maar die polisielede was so onbeskof. Ek wou weet hoekom hulle my honde geskiet het. Daar was drie honde op die erf. Terwyl die ander ook geskiet is, het Skyler die ergste deurgeloop.”

Adams sê hy en sy gesin bly agter sy ma se huis in die agterplaas. Hy het Skyler ná die voorval gaan soek, maar kon hom nie kry nie. Hoewel die honde almal vasgebind was, is hulle aan lang toue vas en hy het Skyler later in die buurman se erf opgespoor.

Adams sê die skietery was ten aanskoue van sy vrou, Nicole, en hul kinders, Sharna (19), Ashton (12) en Kesha (7).

“Die gebeure het almal erg getraumatiseer. Die kinders is ontsteld en is nou meer as ooit tevore bang vir die polisie.”

Adams sê hy het die hond na ’n veearts in Grassy Park geneem, maar hy weet nie hoe hy die rekening gaan betaal nie.

Skyler se wonde, glo veroorsaak deur rubberkoeëls, nadat lede van die bende-eenheid hom glo geskiet het.

“Skyler sterk goed aan en ons verwag dat hy binnekort weer op die been sal wees.”

Adams het die voorval by die Bishop Lavis-polisiekantoor probeer aanmeld, maar hy is glo meegedeel dat hy nie ’n saak aanhangig kan maak nie en eerder ’n regsverteenwoordiger moet kry ten einde ’n siviele eis in te stel.

“Reg en geregtigheid moet geskied, ek wil my hond terughê en iemand sal my onkoste moet betaal.”

Volgens Adams het hy geen probleem dat die polisie die bendes wil vasvat nie, maar dit is nie nodig dat hulle soos boelies optree en die inwoners en honde teiken nie.

“Ek is ’n hardwerkende inwoner van Bonteheuwel en hier bly nie bendes by ons nie, so ons weet nie wat hulle by ons huis gesoek het nie,” sê hy.

Adams sê hy sal sowat R1 000 moet opdok vir sy hond se veeartsrekening.

Angus McKenzie, Bonteheuwel se wyksraadslid, sê hy het die gesin aangeraai om ’n strafregtelike saak by die polisie aanhangig te maak.

“Ondanks die druk wat die bende-eenheid ondervind, is dit van kritieke belang dat beamptes steeds hul rol met waardigheid, respek en selfbeheersing vervul. Die verhouding tussen die polisie en gemeenskappe is reeds geknou en voorvalle soos hierdie dra net tot die inwoners se negatiwiteit teenoor die polisie by,” sê McKenzie.

Hy het ’n beroep gedoen op die polisie om die ondersoek so gou as moontlik af te handel, en as daar bevind word dat die beamptes hul mag misbruik het, moet gepas teen hulle opgetree word.

Die Wes-Kaapse polisie het by navraag gesê hulle het die betrokke huis deursoek nadat ’n skietery Sondag in die omgewing uitgebreek het. “Die hond het die polisielede aangeval toe hulle die perseel binnekom. Die klaer word aangeraai om na vore te kom en ’n verklaring by die polisie af te lê,” sê Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder.

Meer oor:  Ashley Adams  |  Bonteheuwel  |  Kaapstad  |  Skyler  |  Bende-Eenheid  |  Klopjag  |  Honde  |  Geskiet  |  Gesin  |  Rubberkoeëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.