Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bendes ‘stroop Vlakte se mense van menseregte’

Mensregtedag beteken absoluut niks vir die mense van die Kaapse Vlakte nie.

Só sê Roegshanda Pascoe van die Manenberg-veiligheidsforum.

Pascoe het Dinsdag ná afloop van ’n vreedsame optog deur die Kaapse middestad se strate gepraat. Die optog is gehou teen bendegeweld, wat die afgelope sewe dae die lewe van ses mense op die Vlakte geëis het.

“Ons mense het steeds nie regte nie, want ons gaan gebuk onder bendegeweld. Ons kan nie gaan waar ons wil nie. Ons omheinings is hoër as die parlement se heinings, want ons voel nie eens in ons eie huise veilig nie. Die waarheid is dat niemand gespaar is van dié oorlog nie.”

Volgens Pascoe sukkel die jeug van die Kaapse Vlakte om werk te kry weens die klad van bendes.

’n Klein groep mense het Dinsdag aan ’n vreedsame optog in die Moederstad teen bendegeweld op die Kaapse Vlakte deelgeneem. Foto: Lulama Zenzile

“Ons kinders moet ander familielede se adresse op hul CV’s sit, want sodra werknemers lees hulle is van Manenberg of Hanover Park, sien hulle net bendegeweld. Daar is hope talent in ons buurte, maar niks geleenthede nie.”

Nog ’n man wat aan die optog deelgeneem het, Walied Abrahams van Southfield, sê bendegeweld raak elke Kapenaar en inwoner van die Wes-Kaap.

“Ons het nie die vryheid om te gaan waar en wanneer ons wil nie. Kinders kan nie meer buite speel nie.”

Hy sê die rede hoekom hy aan die optog deelneem, is om mense bewus te maak van ander se stryd teen bendegeweld. “Mense weet nie wat die mense in Manenberg deurmaak nie. Hulle verstaan nie die stedelike oorlog wat woed in plekke soos Manenberg, Hanover Park en nou ook in Worcester nie. Ons moet almal ons deel doen in die oorlog teen bendegeweld.”

Pascoe was merkbaar ontsteld toe geen afgevaardigde van die presidensie se kantoor, die provinsiale premier en die burgemeester van die Stad Kaapstad by die wetgewergebou was om hul memorandum te ontvang nie.

Die versoekskrif is toe aan ’n polisiebeampte oorhandig.

“Ek sal binne 14 dae elke dag bel om te hoor wat hul antwoord is. Ons soek ingryping in ons gemeenskappe van alle rolspelers af. Hulle moet politiek hieruit hou. Hulle moet ook wegdoen met die woonstelle in Manenberg, want dit is waar die maatskaplike euwels broei. Enige herbouing van ons gebiede moet eers met ons bespreek word,” het Pascoe gesê.

Niemand van die premier en die burgemeester se kantore was beskikbaar vir kommentaar nie.

Ons het nie die vryheid om te gaan waar en wanneer ons wil nie. Kinders kan nie meer buite speel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.