Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bennie Knoetze verongeluk met bromponie

Die voormalige beroepsbokser Bennie Knoetze (61) het met sy Vespa-bromponie in die Reitz-omgewing in die Oos-Vrystaat verongeluk.

Hy is die broer van die bekende oudbokser Kallie Knoetze.

Bennie Knoetze was passievol oor Vespa-bromponies. Foto: Facebook/ Bikers Respect 4 ALL

Knoetze en ’n groep Vespa-liefhebbers wat die langpad op hul bromponies aangedurf het, was Vrydag op pad terug van die Noordkus toe die noodlottige ongeluk gebeur het, sê Bennie-Pieter, sy seun.

Die groep het Paasvrydag na die Noordkus gery en met hul terugkeer sou hulle Vrydag by hul laaste oorslaapplek in Reitz stop.

“My pa is toe op die Reitzpad dood, letterlik tien of 15 minute van die plek waar hulle sou oorslaap.”

Knoetze het in Krugersdorp gewoon.

Volgens brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, was die motorfietsryers omstreeks 17:15 sowat 10 km buite Reitz van Bethlehem af onderweg toe die ongeluk gebeur.

’n Vragmotor het voor gery, gevolg deur ’n sedan en die motorfietsryers agter die sedan, in dieselfde rigting.

Na bewering het een van die motorfietsryers agterin die voertuig vasgery en beheer oor sy Vespa verloor, wat die pad verlaat het.

Die nooddienste is ontbied, maar Knoetze is op die toneel dood verklaar.

Bennie Knoetze of South Africa in action. (Photo b
Bennie Knoetze in sy boksdae. Foto: Gallo Images

Bennie-Pieter sê sy pa was baie lief vir sy Vespa-bromponie.

“Hulle het ’n Vespa-groepie gehad en hierdie ouens het elke naweek daarmee gery. Dit was sy passie, die Vespas was sy hele lewe.”

Knoetze was 40 jaar in die polisie en het op 60 as polisiekaptein afgetree.

Volgens SuperSport het hy van Maart 1980 tot September 1987 professioneel geboks.

Die Facebook-blad SupaRugby berig Knoetze het 28 keer in die bokskryt geklim en net teen Johnny du Plooy, Pierre Coetzer en Mike Koranicki verloor.

Luidens die blad het hy ook eersteliga-rugby gespeel en vir die Transvaalse Rooibokke uitgedraf.

Bennie-Pieter sê sy pa was saggeaard en nie iemand wat gespog het nie.

“Hoewel hy nie as ’n sagte persoon oorgekom het nie, want hy was baie groot, was hy ’n verskriklike sagte, vriendelike, liefdevolle mens.”

Hy word ook deur sy kinders, Bennie-Pieter, Rochelle en Ruan, sy sibbes, Kallie, Basie, René, Charmaine, Trudie en Charlotte, en kleinkinders, Lia (2) en Heike (3), oorleef.

Dis nie die eerste keer dat sy kinders ’n ouer aan ’n ongeluk afstaan nie.

Sy eerste vrou, Lizette, van wie hy in daardie stadium reeds geskei was, en sy dogter Karina het in 1999 verongeluk. Annamarie, sy tweede vrou, het ook in 2007 verongeluk.

Hulde en medelye stroom op Facebook in.

’n Gedenkdiens word Vrydag om 11:00 in die AGS Krugersdorp-Sentraal vir hom gehou en sal ook aanlyn uitgesaai word. Die familie het nie ’n ope uitnodiging vir bywoning in die kerk gerig nie.

Meer oor:  Kallie Knoetze  |  Bennie Knoetze  |  Ongeluk  |  Bromponie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.