Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beraad oor sekswerkers gehou
Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Veiligheid, keuse, misbruik en menseregte is van die hooftemas wat bespreek is op ’n beraad in die parlement oor die onlangse verslag, in opdrag van die regering, wat aanbeveel dat sekswerk steeds strafbaar is.

’n Parlementêre veelparty-vrouekoukus het Maandag ’n dag lange beraad gehou om die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie (SALRC) se 2017-verslag te bespreek, wat aanbeveel het dat die strafregtelike vervolging van sekswerk steeds op die wetboeke bly.

Die opsie van “gedeeltelike straf”, waar slegs die kliënte gestraf sal word, is oorweeg, maar het ook nadele, is geargumenteer.

Kholi Buthelezi, nasionale koördineerder van die organisasie Sonke Gender Justice, het aangevoer dat die SALRC se verslag nie die perspektief van sekswerkers insluit nie.

Gevolglik is norme aanvaar en aannames gemaak, namens ’n groep wat nie verteenwoordig is nie.

Anél du Toit, ’n regsverteenwoordiger vir die sekswerkersdrukgroep Sweat, het gesê die verslag se aanbevelings vir kriminalisering is grootliks gegrond op die verband met ander maatskaplike probleme soos mensehandel en dwelmmisbruik.

“Ons het geen inligting oor presies hoeveel mense eintlik in hegtenis geneem word nie, hoeveel mense betrokke is nie.”

Emilia Duarte-Potgieter van die vereniging Primrose-inwoners teen misdaad, het egter aangevoer dat sekswerk skadelike nagevolge vir die sekswerker én kliënt het.

Die wettiging van sekswerk sal volgens haar nie die skade aan die betrokkenes of hul families kan voorkom nie.

Die regering moet daarom sekswerkers wat die bedryf wil verlaat help, en dit vir hulle moontlik maak om dit wel te doen, sê sy.

Hand4Hearts, ’n liefdadigheidsorganisasie, het op sy beurt aangevoer dat ’n internasionale studie bewys het dat prostitusie met talle misdrywe verweef is.

Sekshandel en prostitusie kan nie geskei word nie, het die organisasie gesê.

Dié stelling is deur nog ’n liefdadigheidsorganisasie, LoveJustice, ondersteun wat aanvoer dat die verband tussen mensehandel en prostitusie onbetwisbaar is. LoveJustice sê dit het op eie houtjie 250 gevalle van mensehandel in Gauteng geïdentifiseer.

Crystal Clear Ministries het aan die parlement gesê dat Suid-Afrika eerder aan ’n strategie moet werk om vroue wat die seksbedryf wil verlaat, by te staan.

’n Verteenwoordiger van die sentrum vir toegepaste regstudies het gesê die term “prostitusie” is ’n bewys van ingebore vooroordeel en diskriminasie teenoor sekswerkers.

“Dit hou verband met ons moraliserende houding oor seks en vroue wat seks het. Deur op goed te besluit namens sekswerkers, behandel ons vroue soos kinders.”

Die term sekswerk, moet eerder gebruik word, en diegene wat daarby betrokke is, moet toegelaat word om te besluit, het die verteenwoordiger gesê.

Die kommissie vir geslagsgelykheid het aangevoer dat wetgewers in die geval van sekswerkers aan die kant van menseregte moet wees.

Die reg om ’n inkomste te verdien, ’n beroep te kies en nie gedemoniseer te word deur vervolging en die stigma van misdaad nie, moet volgehou word.

Sweat het verder aangevoer dat die wettiging van sekswerk die toestande by bordele sal verbeter. Werkers kan standaarde vir die bedryf stel en verhoudings tussen die werker en werkgewers sal normaliseer.

Maar Kirsten Horby van LoveJustice het gesê die wettiging sal nie die oorgrote meerderheid van buitelanders, wat onwettig as sekswerkers werk, beskerm nie, en sal nie die misbruik by bordele stop nie.

Crystal Clear Ministries het aan die parlement gesê dat Suid-Afrika eerder aan ’n strategie moet werk om vroue wat die seksbedryf wil verlaat, by te staan.

Die kerk het ook aangevoer dat dit nie sal sin maak om slegs een van die partye, soos die kliënte van sekswerkers, te penaliseer nie.

Meer oor:  Parlement  |  Menseregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.