SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
Berg uit – elke dag, vir 365 dae

Toe Andrew Patterson by Dag 330 kom van sy uitdaging om Tafelberg elke dag in 2018 uit te klim, het die hysbak in sy woonstelblok in Kaapstad gebreek.

“Dit was die snaaksste ding,” sê Patterson. “Asof ek nie toe al genoeg geklim het nie, word ek toe gedwing om ook elke dag met die trap na die agtste verdieping te klim.”

Andrew Patterson, wat in 2018 elke liewe dag Tafelberg gaan uitklim het. Foto: Marzahn Botha

Dié 39-jarige het op 31 Desember sy doelwit bereik om die 1 085 m hoë berg 365 keer in ’n jaar te tem. Hy het daarmee amper R500 000 ingesamel vir Habitat for Humanity, ’n nieregeringsorganisasie wat armoede beveg; die Sunflower Fund, Suid-Afrika se beenmurg-skenkings­register; en One Heart, wat deur bergfietswedrenne en hardlooproetes geld insamel om skoolboeke te koop.

Om dit in konteks te stel: Patterson het verlede jaar oor die 396 km geklim – 12 km verder, en hy kon net sowel Internasionale Ruimtestasie toe geklim het.

En dit was alles danksy die “geskenk van aflegging”, spot hy. Hy het einde 2017 sy werk as handelsbestuurder verloor. “In Desember 2017, toe ek eendag vir oulaas werk toe ry, en ek kyk so op na Tafelberg, toe pop hierdie idee in my kop in. Dit het my siel aan die brand gesteek.

“Ek was toe elk geval nie lus om weer in ’n korporatiewe kantoor te gaan sit nie.”

‘En dan kom jy agter: Hierdie berg kan jou nie oorwin nie.’

Hy het die 365 Ubuntu Climbs-organisasie gestig, drie liefdadigheidsorganisasies uitgewys, besluit om die geld deur skarefinansiering in te samel, en toe op 1 Januarie begin klim.

Hy het drie roetes gehad sodat elke dag darem nie dieselfde eentonige staptog sou wees nie.

In die winter, wanneer die opstanery moeilik geraak het, het hy smiddae gaan klim.

As die weer mooi was, het hy met die kabelkar afgery, maar as dit weens slegte weer gesluit was, moes Patterson nie net opklim nie, maar ook af.

Die verskil wat die geld gemaak het wat hy ingesamel het, het hom gemotiveerd gehou.

“Ek sou nog moeilik wees oor die dag se klim, dan kom ’n boodskap deur van een van die liefdadigheidsorganisasies wat vertel oor hoe dankbaar hul ontvangers is.”

En toe begin die skenkers, familielede en vriende saamstap.

Op 190 van 2018 se 365 dae het altesaam 738 mense saam met Patterson die berg aangedurf, meer as die helfte van hulle vir die eerste keer.

“En dan kom jy agter: Hierdie berg kan jou nie oorwin nie. Al wat hierdie berg doen, is om vir jou ’n kans te gee om hom te oorwin.

“En dan klim ’n mens sommer maklik.”

Patterson het steeds nie werk gekry nie, maar hy wil tot einde Januarie nog geld insamel vir liefdadigheid. Daarna beplan hy ’n boek.

“Jy weet, ek sou hierdie ding gedoen het of mense nou in my geglo het of nie,” sê Patterson.

Meer oor:  Andrew Patterson  |  Bergklim  |  Tafelberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.