Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beroepsjagter se vriende gebroke ná sy dood
Stephan van der Merwe en FC Prinsloo van Bushmans Quiver op ’n vroeëre jagtog. Prinsloo is Saterdag dood nadat hy bykans twee weke gelede deur ’n buffel gegaffel is. Foto: FACEBOOK/ Bushmans Quiver Quality African Safaris

Die beroepsjagter van Limpopo wat Saterdag dood is nadat hy bykans twee weke gelede deur ’n buffel bestorm en met sy horings deurboor is, het diep spore getrap en ’n positiewe invloed op baie mense se lewe gehad.

Só sê Stephan van der Merwe oor sy vriend, FC Prinsloo (43), wat Saterdagoggend in die provinsiale hospitaal in Polokwane dood is.

“Ek het geglo hy gaan 100% herstel, maar nou is hy 100% sterk, gelukkig en sonder pyn,” sê Van der Merwe.

Scott Whatley, nog ’n vennoot van Prinsloo, sê hulle is platgeslaan en hartgebroke ná sy dood.

Estelle en FC Prinsloo (43), ’n beroepsjagter van Modimolle, wat dood is nadat ’n buffel hom met sy horings deurboor het.

“Ons troos ons dat hy in vrede by Jesus in die hemel is en dat hy nie meer pyn en swaarkry verduur nie.”

Johan Prinsloo, FC se broer, het Donderdag aan Netwerk24 gesê “dit is ’n oorlewingstryd” waarin sy broer gewikkel is. Hy het Donderdag en Vrydag operasies ondergaan.

Hy het infeksie opgedoen en was aan ’n asemhalingstoestel gekoppel in die waakeenheid van die hospitaal. Sy vrou, Estelle, het deurentyd by hom gewaak. Hulle het nie aan ’n mediese fonds behoort nie. Die egpaar het nie kinders nie.

Prinsloo het ’n moedige stryd gestry nadat een van die buffel se horings sy regterbeen deurboor het. Die verwoede dier het ook sy bors deurboor en het hom vir minstens twee minute gegaffel.

Prinsloo en Van der Merwe, albei van Modimolle en van Bushmans Quiver Quality African Safaris, was Dinsdag 13 Augustus in die Makuya-gebied in die noordooste van Limpopo, digby die Krugerwildtuin.

Hulle het saam met spoorsnyers in twee groepe verdeel toe hulle langs die Mutalerivier geloop het.

’n Buffelbul, wat ’n draadstrik om sy linkervoorbeen gehad het, wat deur stropers gestel is, het Prinsloo bestorm in die dig beboste gebied, voordat hy homself met sy jaggeweer kon verdedig.

’n Spoorsnyer wat by hom was, het Van der Merwe geroep en hulle het ’n draagbaar van boomtakke en hul geweersakke gemaak.

Van der Merwe het gesê dit het sowat twee en ’n half uur geneem om die erg beseerde Prinsloo uit die beboste gebied op die draagbaar te dra na waar hy in ’n private helikopter gelaai is wat hom na ’n teerpad in die Masisi-gebied gevat het.

Hier het ’n ambulans van die departement van gesondheid in Limpopo hom opgelaai en 120 km na Musina gery, waar Prinsloo in die provinsiale hospitaal gestabiliseer is. Hy is toe per noodhelikopter na die provinsiale hospitaal in Polokwane gevlieg en dokters het vir etlike ure lank op hom geopereer.

Die geld wat ingesamel is sodat Prinsloo na ’n private hospitaal oorgeplaas kon word, sal nou gebruik word vir sy begrafnis. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.

Meer oor:  Fc Prinsloo  |  Polokwane  |  Beroepsjagter  |  Dood  |  Gebroke Vriende  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.