Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beroepsjagter sterf by berugte kruising by Marble Hall
Liza-Mari van Heerden en Tiaan Schoeman van Marble Hall.

’n Beroepsjagter van Marble Hall in Limpopo sal nooit sy ongebore seun ken nie nadat hy Saterdagaand op pad na die familieplaas in ’n grusame botsing dood is.

Tiaan Schoeman (37) en Liza-Mari van Heerden (22), sy meisie wat 21 weke swanger is met hul eersteling, was kort voor 21:00 Saterdag in ’n ongeluk by die Slagboom-kruising op die N11 buite Marble Hall betrokke.

Sanette Schoeman, Tiaan se ma, sê hy is meer as 30 m ver uit die Toyota-bakkie geslinger.

Die bestuurder van die ander motor, ’n Toyota Yaris, het glo nie by die berugte kruising, waar etlike ongelukke al gebeur het, stilgehou nie.

Vriende van Schoeman het agter hulle gery en gesien hoe die ongeluk gebeur. Die bakkie het etlike kere gerol.

Tiaan was nog by sy bewussyn ná die ongeluk en het eerste vir sy vriende gevra hoe dit met Liza-Mari gaan.

Die wrak van die Toyota-bakkie waarin Tiaan Schoeman dood is.
Die wrak van die Toyota-bakkie waarin ’n beroepsjagter van Limpopo dood is.
Sanette Schoeman hou haar seun, Tiaan (37), se hand vas ná ’n ongeluk buite Marble Hall.

“Sy vriend het vir hom gevra hoe hy voel en hy het nog gesê ‘dit gaan shanana’, maar hy het kort daarna sy bewussyn verloor,” het Sanette gesê. Nooddienswerkers het vergeefs probeer om sy lewe te red en hy is op die toneel dood.

Sanette en haar man, Gerdus, is deur Schoeman se vriende gebel en het hulself na die ongelukstoneel gehaas.

“Ek wou by my kind wees. Ek het langs hom gesit en sy hand vasgehou. Ons is eers ná middernag by die ongelukstoneel weg.”

Volgens die lykskouingsverslag is Schoeman aan ernstige inwendige bloeding dood.

Van Heerden is na ’n hospitaal in Groblersdal gehaas, van waar sy na die Midmed-hospitaal in Middelburg oorgeplaas is. Sy is reeds ontslaan en sterk by haar ouers in Radium aan.

“Sy het snye, skrape en blou kolle. Die babatjie is gelukkig ongedeerd,” het Sanette gesê.

Sanette sê Schoeman en Van Heerden was verlede Maandag vir ’n sonar van die baba in Pretoria en was baie opgewonde oor die koms van hul eersteling.

“Hy het voluit gelewe. Jag was sy passie en hy was ’n goeie rugbyspeler en het ook in swem op skool uitgeblink. Hy het ook baie van gholf gehou.”

Tiaan Schoeman (37), ’n beroepsjagter van Marble Hall, is in ’n motorongeluk dood.

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika het in ’n verklaring hul skok en medelye oor Schoeman se dood uitgespreek.

Sanette sê sy het vriende wat al kinders verloor het. “Ek het altyd vir hulle gesê ek weet nie hoe hulle oorleef nie, maar nou stap ek dieselfde pad.”

’n Gedenkdiens word Saterdag om 11:00 op die plaas Cyferfontein gehou.

Die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

• In 2019 is ’n pa en sy twee seuns by dieselfde kruising in ’n botsing dood. Die motor waarin Pieter Rossouw (48) en sy seuns, Jannie (13) en JP (10) was, het ná die ongeluk aan die brand geraak. Hulle het verkool.

• In ’n aparte voorval is ’n fietsryer Woensdagoggend op die R81 buite Polokwane dood toe ’n Toyota-bakkie in hom vasgery het. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het omstreeks 06:25 sowat 30 km buite Polokwane gebeur. Die Toyota-bakkie het langs die pad gestaan en die fietsryer het in die middel van die pad gelê. Die man was in sy 40’s.

Meer oor:  Tiaan Schoeman  |  Ongeluk  |  Marble Hall
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.