
Grondbesetters van Khayelitsha betoog buite die burgersentrum in Kaapstad. Foto: Verskaf
Die polisie moes Donderdag ingryp toe grondbesetters van Khayelitsha voor die burgersentrum in Kaapstad oor basiese dienste betoog het.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, was die polisie se eenheid vir openbare orde asook ander wetstoepassers op die toneel waar sowat 80 mense die ingange na die gebou versper het. Die polisie moes skokgranate afgevuur om die besetters uiteen te jaag.
“Hoewel die skare gewaarsku is, moes die polisie hulle uiteenjaag. Twintig mans en agt vroue van Khayelitsha is weens openbare geweld aangekeer. Geen beserings is aangemeld nie.”
Van Wyk sê die groep sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is.
Mzukisi Molosi, ’n gemeenskapsleier, sê inwoners het besluit om die burgersentrum tot stilstand te bring omdat die stad nie basiese dienste wil lewer aan ’n groep mense wat grond in Khayelitsha beset nie.
“Ons sal nie stop voordat ons dit kry waarop ons geregtig is nie. Ons soek water, elektrisiteit, huise en toilette,” het Molosi gesê.
“Die inwoners eis ’n dringende vergadering met die Kaapstad-metroraad hieroor en oor ons versoeke dat basiese dienste op die stuk grond gelewer word.”

Grondbesetters versper die ingange na die Kaapstad-burgersentrum. Foto: Verskaf
In ’n verklaring sê die Intlungu yaseMatyotyombeni-beweging, wat agterplaasbewoners verteenwoordig, dat hulle van plan is om die burgersentrum sowel as die N2 Vrydag te sluit as daar nie aan dié eise gehoor gegee word nie.
Hulle eis water, behoorlike toilette en sanitasie, asook elektrisiteit en dat die Stad Kaapstad aansoeke om hofinterdikte (teen die besetting) laat vaar.
“Ons het die afgelope twee weke probeer om die Stad Kaapstad te betrek, maar al ons pogings om met die burgemeester te vergader het misluk. Dis nou die derde week dat ons sonder antwoorde sit en die metroraad ignoreer ons eise.
“Hul verskoning is dat die grond waarop ons woon, nie geskik is vir menslike verblyf nie en ook dat die stad nie geld het om dienste daar te lewer nie,” lui die verklaring.
“Dit is ’n leun. Dieselfde stad het verlede maand ongeveer R60 miljoen begroot om te betaal vir private sekerheid om grond in Kaapstad op te pas.”
Die beweging sê die stad kyk net na die rykes en nie na die arm werkersklas nie.
Die groep het hulle gedistansieer van die uitbrand van busse, plundery en enige vorm van misdadige aktiwiteite waaronder die stad gebuk gaan.