Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Besetters verlaat grond in Kaapse middestad

Die besetters van “Site B” in Roggebaai, Kaapstad, het die perseel verlaat nadat ’n interdik teen hulle gekry is deur die maatskappy wat die grond wil ontwikkel.

Die besetters, lede van onder meer Reclaim the City en die Social Justice Coalition, is Dinsdagaand deur Growthpoint Properties van dié hofbevel in kennis gestel en het toe die perseel aan die onderste punt van Lang- en Loopstraat verlaat.

Aktiviste het Dinsdagoggend die perseel beset en sinkhuise daarop gebou.

Timothy Irvine, batebestuurder van Growthpoint in Kaapstad, het Woensdag bevestig dat ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad teen besetters op Site B ingedien is.

Growthpoint het in 2016 die grond van die Kaapse metroraad op ’n veiling vir R86,5 miljoen gekoop.

Sedertdien beweer aktiviste dat Growthpoint die terrein teen tot R140 miljoen te min gekoop het omdat die eiendom aansienlik ondergewaardeer was.

“Ons het na die veiling gegaan en die grond gekoop. Dit is eintlik ’n saak tussen die betrokke groepe en die metroraad,” sê Irvine.

Reclaim the City, die Social Justice Coalition en ander organisasies het Dinsdagoggend aangedui dat hulle met die besetting dié grond “terugneem”. Hulle wil hê staatsgrond moet vir bekostigbare behuising gebruik word.

Teen die aand het Reclaim the City gesê dat ’n gewapende reaksie-eenheid gestuur is om die hofbevel – “wat met leuens verkry is” – uit te voer.

“Hulle sê dat ons erwe van die grond wil verkoop en dat ons mislei is. Nee, dit is net die begin.”

Volgens Reclaim the City het Growthpoint in sy aansoek aangevoer dat die besetters die grond onwettiglik wil onteien en dat die maatskappy risiko loop om die eiendom te verloor.

In Oktober het lede van Reclaim the City en Ndifuna Ukwazi na die kantoor van Growthpoint Properties opgeruk met vrae oor die “afslag” van R140 miljoen. Hulle sê die eiendom se werklike waarde kon tot R230 miljoen beloop het en dat die volle grootte van die toegelate ontwikkelingsgebied nie in ag geneem is nie.

Patricia de Lille, voormalige burgemeester van Kaapstad, het in September gevra vir ’n forensiese ondersoek na die verkoop van die erf. Dit het gevolg ná aantygings dat die grond, wat voorheen as ’n parkeerterrein gebruik is, “ernstig ondergewaardeer” is.

Growthpoint het in ’n verklaring op 25 Oktober bevestig dat hy Site B met kontant gekoop het en eienaarskap op 7 Maart 2017 ontvang het.

“Ons het nie vooraf geweet van enige regte om meer as 17 500 m² op Site B te ontwikkel nie. Dit was altyd ons bedoeling om vir bykomende regte aansoek te doen en het eers in April 2017 ontdek dat die erf vir ontwikkeling van tot 46 000 m² gesoneer is.”

Volgens Growthpoint het die metroraad se departement vir eiendomsbestuur bevestig dat ’n billike prys vir die grond betaal is en ’n deursigtige proses gevolg is.

Aansoek word gedoen vir die bou van winkels, kantore en ’n hotel op die terrein. Dié ontwikkeling kan op ’n belegging van R2,2 miljard in die stad neerkom.

Growthpoint besit tans eiendom ter waarde van R17,2 miljard in die Wes-Kaap, sowel as ’n belang van 50% in die V&A Waterfront wat op R9,1 miljard gewaardeer is.

Meer oor:  Reclaim The City  |  Roggebaai  |  Kaapstad  |  Besetters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.