Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Besluit uit 1618 hou vroue uit kerkampte
Afgevaardigdes woon die buitengewone algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Potchefstroom by. Foto: mario van de wall

’n Artikel wat sedert 1618 in die kerkorde van gereformeerde kerke bestaan, gaan dit moeilik maak vir vroue om ooit in die ampte van predikant en ouderling in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) te dien.

Ingevolge die GKSA se kerkorde, wat grootliks ooreenstem met die kerkorde wat in 1618 in Dordrecht deur gereformeerde kerke van oor die wêreld aanvaar is, kan ’n saak nie sonder meer weer, nadat daaroor besluit is, voor ’n vergadering gebring word nie.

Dit is om te keer dat sake herhaaldelik voorgelê word vir bespreking.

Die GKSA het met ’n groot meerderheid op ’n buitengewone algemene sinode die afgelope week besluit vroue mag nie in die besondere ampte (predikant en ouderling) dien nie.

“Dit sal baie moeilik wees om nuwe besware teen die 2009-
sinodebesluit te bring, aangesien die beswaarskrifte van die 2012- en 2015-sinode op hierdie buitengewone algemene sinode baie deeglik bespreek is en ’n baie deeglike besluit geneem is,” het prof. Douw Breed, leraar van die Gereformeerde gemeente Waterkloofrand en woordvoerder van die afgelope sinode, gesê.

Die besluit van 2009 behels dat vroue nié in die amp van predikant en ouderling bevestig kan word nie.

Die besluit word gehandhaaf.

“Daar is ’n moontlikheid dat die vrou in die kerk weer in die toekoms bespreek kan word, maar dan sal diegene wat die 2009-besluit wil omkeer, nuwe argumente en bewyse moet bring. Dit gaan baie moeilik wees, aangesien die saak behoorlik en deeglik bespreek en oorweeg is,” het Breed gesê.

Sowat 280 afgevaardigdes – predikante en ouderlinge – het die sinode in Potchefstroom bygewoon.

Al ses beswaarskrifte om vroue in die GKSA toe te laat om te preek en ouderlinge te wees, is met ’n groot meerderheid afgestem.

’n Sewende beswaarskrif dat vroue nie in die amp van diaken mag dien nie, het ook op die buitengewone sinode gedien, maar is met ’n klein meerderheid afgestem. Die GKSA het op sy algemene sinode in 2003 besluit vroue mag wel in die amp van diaken staan omdat dit ’n amp van diens is en nie van Woordverkondiging of toesighouding nie.

  • Op die eerste dag van die sitting het dr. Derrick Mashau, leeraar van Sunnyside en hoogleraar in teologie aan Unisa, ’n opskudding veroorsaak toe hy gesê het die gebruik van Afrikaans sluit die sowat 35 swart afgevaardigdes uit.

Al die dokumente wat voor die vergadering gedien het, was in Afrikaans en Engels beskikbaar en tolke het deurlopend getolk.

Die sinode het ’n kompromisbesluit geneem dat die leiers agendapunte in Afrikaans en Engels sou inlui en dat afgevaardigdes sover moontlik ’n taal sal praat wat vir almal verstaanbaar is, maar dat elkeen geregtig is om in sy moedertaal te praat, mits daar ’n tolk teenwoordig is.

Groot dele van die vergadering is daarna in Engels gehou.

  • Op die tweede dag van die sitting het ds. Kiepie Jaftha van Bloemfontein nóg ’n opskudding veroorsaak toe hy die moderamen daarvan beskuldig het dat hulle te wit en manlik is.

Een van die vyf lede van die moderamen was swart.

Jaftha het ook gekla omdat kommissievoorsitters en -skribas ook wit is. Daarna is die samestelling van die kommissies gewysig met van die kommissies wat deur swart afgevaardigdes gelei is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.