Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Besoek aan VSA ‘in land se belang’

AfriForum se besoek aan die VSA is ’n “daad van patriotisme” teen die ANC se beleidsrigting om eiendomsreg te vernietig.

So sê Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, ná afloop van hul week en ’n half lange veldtog in die VSA om Amerikaanse politici en ander instansies te oortuig om internasionale druk op die regering te plaas om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Ernst Roets, sy adjunk, kom gister by die O.R. Tambo-lughawe aan ná ’n week en ’n half lange veldtog in die VSA. Foto:Elizabeth Sejake

Roets en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gisteroggend in Johannesburg aangekom.

Paul Gosar, ’n Republikeinse lid van die Amerikaanse kongres, en een van die mense met wie Kriel en Roets in Washington vergader het, het ná afloop van sy ontmoeting met hulle gesê Amerika behoort sy geldelike hulp aan Suid-Afrika te hersien.

Rory Burke, sy woordvoerder, het in ’n e-posboodskap aan Rapport gesê dit behoort te gebeur omdat die Suid-Afrikaanse regering selde die VSA se standpunte in die Verenigde Nasies ondersteun.

“Eiendomsreg- en menseregteskendings in Suid-Afrika sal in ag geneem word wanneer dié besluit geneem word. Die ANC se versuim om eiendomsreg te beskerm is ’n versuim om menseregte te respekteer. Tog ontvang die ANC honderdmiljoene rande se finansiering van die Amerikaanse belastingbetaler,” sê Burke.

Saam met Tucker Carlson van Fox News.
Saam met John Bolton, veiligheidsraadgewer van pres. Trump.

Marian Tupy, ’n senior beleidsanalis by die libertynse Cato-instituut, volgens baie waarnemers een van die tien mees invloedryke dinksentrums in Amerika, het hierdie week in ’n e-posonderhoud gesê hulle het Roets en Kriel ontmoet het om meer te hore te kom oor die mees onlangse gebeure op politieke en ekonomiese gebied in Suid-Afrika.

“Ons is bekommerd oor die beleidsrigting wat die regering inslaan omdat onteiening sonder vergoeding onverenigbaar is met vrede en voorspoed.

“Die internasionale gemeenskap behoort te doen wat dit kan om die regering te ontmoedig om die katastrofale beleide in te stel wat lande soos Kuba, Venezuela en Zimbabwe vernietig het,” het Tupy gesê.

Die lys van individue en organisasies wat die AfriForum-afvaardiging ontmoet het, sluit in personeellede van senator Ted Cruz, die man wat die Republikeinse presidentsbenoeming teen Donald Trump verloor het.

Hul grootse deurbraak was om ’n onderhoud op die program Tucker Carlson Tonight op Fox News los te slaan wat die grootste kabelnuuskanaal in die VSA is.
Kallie Kriel en Ernst Roets op Capital Hill.

Behalwe hul ontmoeting met die Cato Institute het hulle ook vergaderings gehad met die Heritage Foundation, waarskynlik die mees invloedryke Republikeinse dinksentrum in Washington. Daar was ook ontmoetings met die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, die Internasionale Republikeinse Instituut en die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAid).

Kriel sê hul strategie was om met ’n paar politici en gerespekteerde dinkskrums te vergader wat moontlik bereid is om hul saak verder te voer en “ ’n klimaat te skep wat vatbaar is vir ons boodskap”. “Hoe meer politici en dinkskrums standpunt hieroor inneem, hoe groter kans is daar vir ’n sneeubaleffek wat uiteindelik tot verdere internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering kan lei om eiendomsreg te beskerm,” sê hy.

Volgens Kriel was hul grootste deurbraak om ’n onderhoud op die program Tucker Carlson Tonight op Fox News los te slaan. Die Republikeinsgesinde Fox is die grootste kabel- en satellietnuuskanaal in die VSA en Carlson se program een van die gewildste nuusprogramme in Amerika.

“Die deure het behoorlik oopgegaan toe ons kon sê dat Carlson met ons ’n onderhoud gevoer het,” sê Kriel.

Die onderhoud is opgeneem, maar nog nie uitgesaai nie. Kriel het gister aan Rapport gesê hulle verwag dat dit binne die volgende week sal gebeur.

Volgens Kriel is dit “absolute twak” dat hulle dislojaal is teenoor Suid-Afrika – soos wat baie van hul kritici beweer.

“Ons pogings om ’n beleid te keer wat die land ongekende skade kan berokken, is ’n daad van patriotisme. Wat ons doen, is om ’n standpunt in te neem tussen die land se belange en die ANC se belange.

“Ons internasionale veldtog is nie daarop gemik om die buiteland te oortuig om te disinvesteer nie, maar om buitelanders te oortuig om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig dat die miskenning van eiendomsreg groot skade vir die land sal aanrig,” sê hy.

Daar is egter verskil hieroor onder die land se politieke ontleders.

Max du Preez, ’n politieke ontleder en oudjoernalis, sê AfriForum het ’n ernstige oordeelsfout begaan om VSA toe te gaan.

“Al wat AfriForum bereik, is om Suid-Afrikaners die duiwel in te maak wat hulle as rassiste sien wat na die ou orde terugverlang. Dit maak geen sin om Trump en die regses in die VSA te bearbei teen ’n plaaslike beleidsrigting waaroor die Suid-Afrikaanse parlement moet besluit nie.

“Daar is geen manier wat regse organisasies of Trump enige invloed gaan hê oor wat met grondhervorming gebeur nie. Hulle is dislojaal en beswadder net ons naam oorsee. Hul enigste hoop is om die ekonomie te benadeel en beleggings in die land te ontmoedig,” sê Du Preez.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê dit is AfriForum se “absolute reg” om voorspraak te maak vir hul veldtog teen grondonteiening in die buiteland

Meer oor:  Afriforum  |  Vsa  |  Plaasaanvalle  |  Eiendomsreg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.