Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bestuurder het nie gevlug ná ongeluk, is na hospitaal geneem
Die Janse van Rensburg-gesin van Boksburg, Claudia (25), Clive (32), Aiden (4) en Leané (5), wat Donderdag sowat 160 km van Richardsbaai in ’n motorongeluk dood is. Foto: Verskaf

Die ander bestuurder wat betrokke was by die ongeluk waarin ’n gesin van vier van Boksburg uitgewis is, is onlangs uit die hospitaal ontslaan.

Sy regsverteenwoordiger, Garry Bell, wou nie sy kliënt se naam bekend maak nie en het gesê hy het nie gevlug soos wat beweer word nie.

Die Janse van Rensburg-gesin van Boksburg, Clive (32), Claudia (25), Aiden (4) en Leané (5), was Donderdag op pad na Richardsbaai om by familie te gaan kuier toe hulle sowat 160 km van hul bestemming af verongeluk het.

Die gesin het Claudia se ouers, Belinda en Pedro Tenreiro, in Kriel in Mpumalanga gekry, van waar hulle omstreeks 17:30 in aparte voertuie na Richardsbaai vertrek het.

Bell het Woensdagmiddag aan Netwerk24 gesê sy kliënt is na ’n hospitaal geneem en het nie van die toneel gevlug nie.

Hy het gesê hy het ’n kopbesering opgedoen en het gesukkel om asem te haal. Daarom is sy kliënt onmiddellik na die hospitaal vervoer.

Die man, wat in sy 60’s is, is Sondag uit die hospitaal ontslaan.

Volgens Bell is sy kliënt ’n veearts wat al jare op Mkhuze in KwaZulu-Natal woon.

Bell het gesê in hierdie stadium kan hy nie meer oor die voorval sê nie omdat ’n klag van strafbare manslag ondersoek word. Hy het gesê hulle gee die polisie hul samewerking.

Die polisie het Dinsdag by navraag gesê die bestuurder het van die toneel gevlug, maar Woensdag laat weet dat hierdie inligting verkeerd is.

Volgens die polisie is die bestuurder na ’n hospitaal geneem.

Dit blyk dat die polisie die ongeluk waarin die Janse van Rensburgs was, aanvanklik met ’n ander ongeluk verwar het en die verkeerde inligting Dinsdag aan Netwerk24 verskaf het.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Die oorsaak van die ongeluk moet nog vasgestel word. Die man het ernstige beserings opgedoen en sy gesin het hom na die hospitaal geneem om mediese hulp te kry.

“Die familielede het sy vervoer in die teenwoordigheid van die polisie gereël,” het kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie het ook nie die man se naam bekend gemaak nie.

Shaun McGuone, ’n private speurder van Investipol, wat deur die oorledenes se familie aangestel is om die ongeluk te ondersoek, het gesê hulle sal hul inligting met die polisie deel.

Volgens die familie van die oorledenes het hulle glad nie die bestuurder op die toneel gesien nie. Hulle worstel steeds met baie vrae.

Natasha Wright, Claudia se suster, het gesê sy weet geregtigheid sal geskied.

Sy sukkel steeds om die tragedie te verwerk. “Dit voel asof hulle met vakansie is en nog gaan terugkom.”

Die gesin word Vrydag in Kriel ter ruste gelê.

Meer oor:  Boksburg  |  Clive Janse Van Rensburg  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.