
Die Janse van Rensburg-gesin, Claudia (25), Clive (32), Aiden (4) en Leané (5), wat Donderdagaand in ’n ongeluk dood is. Foto: Verskaf
REGSTELLING: Dié berig vervang 'n vroeëre weergawe van die storie waarvan die inligting nie korrek was nie.
Die prokureur van die bestuurder van ’n voertuig wat betrokke was by die ongeluk wat die lewens van ’n Boksburg-gesin geëis het, ontken dat sy kliënt van die ongelukstoneel gevlug het.
Die Janse van Rensburg-gesin, Clive (32), Claudia (25), Aiden (4) en Leané (5), was Donderdag op pad na Richardsbaai om by familie te gaan kuier.
Hulle het Claudia se ouers, Belinda en Pedro Tenreiro, op Kriel in Mpumalanga gekry, van waar hulle omstreeks 17:30 in aparte voertuie verder gery het.
Volgens inligting het ’n motor reg van voor teen die Janse van Rensburgs se Renault gebots. Pedro Tenreiro het gesê die familie het intussen ’n private speurder aangestel om die ongeluk te ondersoek.
Volgens Tenreiro het hy glad nie die ander bestuurder op die toneel gesien nie en dit is hartseer dat hy die toneel verlaat het. Die bestuurder se regsverteenwoordiger, Garry Bell, wou nie sy kliënt se naam bekend maak nie.
Bell sê sy kliënt het nie gevlug, soos beweer word, nie. Bell het Woensdagmiddag aan Netwerk24 gesê sy kliënt is na ’n hospitaal gebring en het nie van die toneel gevlug nie.
Bell sê hy het ’n kopbesering opgedoen en het gesukkel om asem te haal.
Daarom is sy kliënt onmiddellik na die hospitaal vervoer. Volgens Bell is sy kliënt ’n veearts en woon al jare op Mkhuze.
Die polisie het Dinsdag by navraag oor die ongeluk gesê die bestuurder het van die toneel af gevlug, maar Woensdag laat weet hierdie inligting is verkeerd en dat die bestuurder nie van die toneel af gevlug het nie.
Die bestuurder is volgens die polisie na 'n hospitaal geneem. Die polisie het die Janse van Rensburg-gesin se ongeluk aanvanklik met 'n ander een verwar en daarom is die verkeerde inligting Dinsdag aan Netwerk24 verskaf. Die gesin word Vrydag begrawe.