Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Betaal jou e-tol-skuld of jy kry g’n lisensie

’n Desperate Sanral (Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap) waarsku wanbetalende motoriste nou dat hulle nie hul nuwe voertuiglisensieskyfies sal kan kry voordat hul uitstaande e-tol-skuld en -boetes betaal is nie.

Dié waarskuwing, wat op Sanral se e-tol-webblad aangebring is, volg terwyl ANC-politici in die openbaar oor die wenslikheid en haalbaarheid stry van e-tol, waarvan slegs 2% van historiese skuld volgens Sanral se jongste jaarverslag tans ingevorder word.

Sanral het in die vorige boekjaar R660 miljoen se e-tol-inkomste erken en sit met ’n opgehoopte verlies van R14,85 miljard.

Sanral se woordvoerder, Vusi Mona, het aan Rapport bevestig die waarskuwing oor lisensieskywe op Sanral se e-tol-webblad is nuut, maar hy kon nie sê of dit reeds in werking is nie.

“Ons is ingenieurs. Ons bou paaie. Jy moet met die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) praat,” het hy gesê.

Die RTIA is ’n agentskap wat in die lewe geroep is om die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto) te administreer. Dié wet is veronderstel om op 1 Julie oor die land heen in werking te tree, met ’n strafpuntstelsel wat gereelde oortreders van verkeerswette uiteindelik hul rybewyse kan kos.

Mkalipi het ook beklemtoon dat die wanbetaling van e-tol ingevolge die konsepregulasies nie lei tot strafpunte nie.

Cornelia van Niekerk, eienaar van Fines4U wat verkeersboetes namens ’n groot aantal vlooteienaars en private motoriste bestuur, sê Sanral se waarskuwing is waarskynlik geplaas ter voorbereiding van dié Aarto-implementering.

Monde Mkalipi, die RTIA se senior bestuurder vir media en bemarking, het Vrydag bevestig dat die regulasies ingevolge die wet eers gefinaliseer moet word voordat Sanral se waarskuwing oor die weerhouding van motorlisensies van krag kan word. Mkalipi het ook beklemtoon dat die wanbetaling van e-tol ingevolge die konsepregulasies nie lei tot strafpunte nie.

Die regulasies, wat in Oktober vir kommentaar gepubliseer is, het skerp kritiek ontlok weens ’n voorstel dat wanbetalers van e-tol met R500 beboet word elke keer dat hulle onder ’n e-tol-hek deurry. Vir ondernemings is die boete R1 000.

Nog ’n omstrede voorstel is ’n heffing van R100 vir elke boete wat uitgereik word.

Volgens Van Niekerk verwys Sanral se jongste waarskuwing waarskynlik na die Aarto-boetes wat in die konsepregulasies voorgestel word. Sy sê as dít deurgevoer word, sal motoriste baie groter probleme hê as net die verkryging van hul lisensieskyfies. “Dit gaan baie verder as dit. Voertuigeienaars se rekening op die regering se e-Natis-stelsel kan geblokkeer word,” sê sy.

Dít beteken onder meer eienaars kan nie voertuie registreer of deregistreer nie en ook nie hul rybewys of professionele bestuurspermitte kry as dit hernu is nie.

Hoe gereed die regering werklik is vir die implementering van Aarto, is egter ’n ope vraag nadat die topbestuur van die RTIA geskors is hangende ’n forensiese ondersoek na beweerde finansiële ongerymdhede.

Intussen lyk dit al hoe meer of die nasionale regering vasskop oor e-tol.

Pres. Cyril Ramaphosa se prestasieooreenkoms met Fikile Mbalula, minister van vervoer, bepaal dat hy ’n strategie moet ontwikkel om die gebruiker-betaal-beginsel te implementeer. Die ooreenkoms is in Oktober verlede jaar onderteken en bepaal dat die “voldoeningsvlak” teen 2024 100% moet wees.

Hoewel e-tol nie spesifiek genoem word nie, het die regering al herhaaldelik gesê dít is die beginsel waarop e-tol gegrond is.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede ook die beginsel herbevestig dat gebruikers van infrastruktuur soos dié daarvoor moet betaal.

Die ouditeur-generaal het sy kommer uitgespreek oor Sanral se voortbestaan as lopende saak, hoofsaaklik weens die e-tol-dilemma.

Sanral se direksie glo egter dat die regering hom nog elke keer met ’n reddingsboei gered het en dit weer sal doen indien nodig sodat Sanral nie op sy lenings wanbetaal nie.

Meer oor:  Vusi Mona  |  E-Tol  |  Sanral
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.