Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Betogende inwoners stroop winkels in Boshof

Terwyl vier vermeende moordenaars van ’n geliefde egpaar van Boshof in die landdroshof op dié Vrystaatse dorp verskyn het, het verskeie inwoners op Mandeladag weens swak dienslewering op ’n strooptog gegaan.

Altesaam 21 mense, 11 vroue en tien mans, is sedert Donderdagoggend weens openbare geweld in Boshof in hegtenis geneem nadat amptenare van die munisipaliteit glo nie hul griefskrif wou aanvaar nie.

Verskeie oproeriges is Donderdag in Boshof vir openbare geweld in hegtenis geneem. Foto: Mlungisi Louw
Dit was chaos in Boshof toe oproerige inwoners winkels geplunder en voertuie beskadig het. Foto: Mlungisi Louw

Gegriefde betogende inwoners het hierna op ’n strooptog gegaan en verskeie winkels geplunder en voertuie beskadig.

Buitelandse winkeleienaars het inderhaas met die polisie se hulp hul winkels ontruim en hul deure gesluit nadat oproerige inwoners hul winkels bestorm en geld en kruideniersware gebuit het.

Lt.kol. Thabo Covane, ’n polisiewoordvoerder, sê hoewel die polisie die inwoners verskeie kere gemaan het dat die betoging onwettig is, het hulle nietemin voortgegaan en na die munisipale kantore opgeruk.

Hy sê niemand wou blykbaar hul griefskrif oor swak dienslewering aanvaar nie. Daarop het hulle die strate ingevaar, winkels geplunder en voertuie beskadig.

“Altesaam 21 mense is reeds aangekeer, terwyl die polisie steeds ’n wakende oog oor die betogers hou.”

’n Jong man hardloop weg terwyl ander inwoners winkels plunder. Foto: Mlungisi Louw

’n Bangladesjiese winkeleienaar het aan Mlungisi Louw gesê die sakelui is ontsteld oor wat in Boshof aan die gebeur is, veral omdat hulle niemand skade aandoen nie.

“Ons probeer die mense help, maar ek weet nie watter soort mense hulle is nie,” het hy gesê.

Die winkeleienaar, wat die afgelope ses jaar sake in die dorp doen, sê sy hele winkel is geplunder.

Volgens hom het die oproeriges geen rede aangevoer vir hul plundertog nie.

’n Groep jong manne glimlag vrolik terwyl winkels in Boshof geplunder word. Foto: Mlungisi Louw
Verskeie oproeriges is in hegtenis geneem.Foto: Mlungisi Louw

* In ’n onverwante protesaksie is Andrew Jafta, ’n koerantafleweraar van Volksblad, in die been geskiet nadat hy op die ou Boshofpad sowat 50 km buite Kimberley oorval is.

Volgens Rafiq Barday, sy werkgewer, was hy in sy Nissan-bakkie op pad terug van Dealesville, waar hy ook nie koerante weens protesoptrede kon aflewer nie.

Naby Boshof was die pad met klippe versper.

“Toe hy uit die bakkie klim om die klippe te verwyder om verder te ry, is hy deur drie mans oorval. Die mans het in die bakkie geklim en hom beveel om te ry.”

Nadat hy Kimberley binnegery het, het die mans uitgespring, Jafta in die been geskiet en gevlug.

Hy is vir behandeling na ’n hospitaal geneem.

Barday sê dit kon veel erger gewees het en hy is bly dat Jafta nie ernstiger beseer is nie.

* Die hofsaak van die vermeende moordenaars van Sakkie en Ina van der Berg is tot volgende Donderdag uitgestel.

Johannes Sekgoro, Lecpile Daniël Sidas, Daniël Tsekiso Seloane en Thami Terrence Kat het Donderdagoggend op ’n aanklag van moord in die landdroshof in Boshof verskyn.

Die toneel in ’n winkel van buitelanders ná die gebeure op Mandeladag in Boshof. Foto: Mlungisi Louw
Verskeie buitelanders se winkels is op Mandeladag in Boshof geplunder. Hier probeer een eienaar nog red wat te redde is. Foto: Mlungisi Louw
Buitelandse winkeleienaars moes Donderdag met behulp van die polisie inderhaas hul winkels oppak. Foto: Mlungisi Louw
Verskeie winkels in Boshof het onder inwoners deurgeloop. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Boshof  |  Betogers  |  Dienslewering  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.