Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Betogers eis grond en titelaktes

Sowat 300 betogers het Woensdagoggend na die Wes-Kaapse wetgewer opgeruk teen die verhoging van huur vir maatskaplike behuising en voorvalle van uitsettings in Kaapstad.

Die betogers het grond en titelaktes geëis, asook dat die lewering van huise bespoedig moet word en dat aantygings van korrupsie en nepotisme met die toewysing van huise ondersoek word.

Sowat 300 betogers kom Woensdagoggend voor die Wes-Kaapse wetgewer byeen uit protes teen ’n huurverhoging vir maatskaplike behuising en voorvalle van uitsettings in Kaapstad.Foto: Malherbe Nienaber
Betogers keer vroeg Woensdagmiddag deur De Waal-straat na die Kaapstadse stasie terug ná ’n optog na die Wes-Kaapse wetgewer.Foto: Malherbe Nienaber
Betogers stap Woensdagmiddag voor die Kaapstad-stadsaal verby onderweg na die stasie.Foto: Malherbe Nienaber

Leiers van politieke partye in die provinsie en verskeie gemeenskapsorganisasies het ’n memorandum van eise op die trappe voor die wetgewer in Kaapstad aan Thando Mguli, hoof van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings, oorhandig.

Nguli het met ontvangs van die memorandum gesê sy departement is besig om grond vir behuising te koop om dienslewering te kan bespoedig. Die betogers het toe uitgeroep: “Wanneer?”

Mense van Dunoon, Khayelitsha en selfs Ruyterwacht in die noordelike voorstede het die oggend saam gesing en gedans. Teen vroegmiddag het hulle na die Kaapstadse stasie teruggekeer.

Loyiso Nkohla van die Stigting vir Gemeenskapsontwikkeling spreek betogers op die trappe voor die Wes-Kaapse wetgewer toe.Foto: Malherbe Nienaber

Loyiso Nkohla van die Stigting vir Gemeenskapsontwikkeling het aan die skare gesê daar is voorheen belowe dat huurders van maatskaplike behuising uiteindelik die eiendom sou besit.

“Sommiges wag nou al 20 of 30 jaar. Daar is ’n provinsiale tribunaal wat dié sake reguleer, maar dit het gemeenskappe in die steek gelaat.”

Nkohla, ’n voormalige ANC-raadslid, het benadruk dat maatskaplike behuising aan bejaardes, kwesbare inwoners en gestremdes moet gaan.

Daar is glo meer as 3 600 huurders wie se huur “buitensporig verhoog” het, terwyl daar ook klagtes is dat buitelanders en mense van buite die provinsie van die wonings huur, volgens Nkohla.

Dit is ook vir die betogers benadruk dat regters met die toestaan van ’n uitsettingsbevel altyd sal vra of daar voorsiening vir alternatiewe verblyf is, en dat hulle eers ’n eiendom moet verlaat as daar ’n finale bevel is.

Volgens Nkohla word daar al sedert 2014 grond deur die metroraad en provinsiale departement beloof, terwyl die provinsiale regering glo “strategies geplaaste grond” in Montana, naby Valhalla Park, en Morning Star aan die N7 gekoop het, maar dit word nie beskikbaar gestel nie.

“Grond wat aan die mense moet gaan, word onwettig beset, want die agterplaasbewoner word desperaat en huur ook.”

Nkohla sê die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings word tot 31 Julie die geleentheid gegee om op die betogers se eise te reageer.

Van die betogers het baniere gedra wat kla oor die maatskappy Communicare wat onder meer maatskaplike behuising uithuur, en veral aan bejaardes.

Een groot banier het gelui: “Ons is Suid-Afrikaanse vlugtelinge op soek na ’n plek om ons koppe neer te lê.”

Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, praat oor ’n megafoon met betogers voor die provinsiale wetgewer in Kaapstad.Foto: Malherbe Nienaber

Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, het die ANC se steun vir die betogers uitgespreek en gesê hy is daar om solidariteit te toon.

Jacobs sê “behoorlike, bekostigbare behuising vir almal” is nodig. “Daar is baie klagtes oor korrupsie, nepotisme en subsidies wat nie tot voordeel van armes aangewend word nie. Ons benodig ook ’n moratorium op alle uitsettings.”

Bernard Joseph van die EFF in die Wes-Kaap sê daar is geen manier dat die huur vir maatskaplike behuising verhoog kan word sonder om te vra waarvan die bejaardes, ouers en kinders gaan leef nie.

* Nkohla het ook ’n beroep op mense gedoen om op 26 Julie na die Kaapstadse burgersentrum op te ruk, wanneer daar glo oor ’n wantrouemosie teen Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, gestem word.

De Lille is glo “die enigste een” wat sal ingryp by die kwessie van behuising en grond in die Kaapse metro, volgens Nkohla.

Meer oor:  Titelaktes  |  Grond  |  Betogers  |  Eis  |  Uitsettings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.