Oproeriges wat oor behuising betoog, het minstens twee vragmotors en ’n passasiersbus in Motherwell in Port Elizabeth uitgebrand.
Die betoging wat Woensdag omstreeks 20:00 op die R335 begin het, is vroeg Donderdagoggend voortgesit.
Die polisie het motoriste aangeraai om die Monument-kruising (R335 en R334) te vermy.

Betogers het Donderdagoggend ’n Algoa-bus in Motherwell uitgebrand. Foto: Lulama Zenzile
’n Skare van bykans 2 000 mense het die betoging begin deur die pad met brandende buitebande te versper.
Die betogers is glo gegriefde inwoners van ’n informele nedersetting naby Ikamvelihle wat sê dat hulle moeg vir leë behuisingsbeloftes is.
Volgens kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, is een vragmotor Woensdagaand in die munisipale depot in die gebied aan die brand gesteek en vernietig.
“Die polisie het omstreeks 22:30 traanrook en rubberkoeëls gebruik om die skare uiteen te jaag.”

Brandbestryders blus die vlamme in die Algoa-bus. Foto: Lulama Zenzile
Die betogers het Donderdag die Monument-kruising (R335 en R334) omstreeks 06:30 met brandende buitebande versper.
Beetge het gesê betogers het ook polisievoertuie met klippe bestook en petrolbomme na twee vragmotors gegooi.
Teen 08:00 het Beetge bevestig dat een van die twee vragmotors aan die brand is, maar hy kon nie bevestig of die tweede vragmotor ook al gebrand het nie.
Die betogers het kort daarna ’n Algoa-bus met ’n petrolbom bestook. Dit is nog nie bekend of enigiemand beseer is nie.
Die polisie handhaaf ’n hoë sigbaarheid op die toneel en niemand is nog sover bekend in hegtenis geneem nie.

Betogers in Motherwell in Port Elizabeth betoog reeds van Woensdagaand af. Foto: Facebook