Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Woordfees: Betogers ontwrig eerste dag
'n Skermgreep uit 'n video van Neil van der Wat van die betogers by die boekbekendstelling by die Woordfees.
Marlise Scheepers en Mariëtta Kruger gister in gesprek by die Woord­fees. Foto: Hendri Warricker

'n Groep van sowat 30 jong vroue het vir groot drama op die eerste dag van vanjaar se Woordfees gesorg toe hulle met kaal bolywe en slagspreuke ’n skrywersgesprek ontwrig het.

Die groep betogende vroue, vergesel van ’n groep mans, het ná hul protesoptrede na die ­Universiteit Stellenbosch se Helshoogte-manskoshuis gegaan waar hulle teen laat Vrydagaand nog in die ontspanningsaal gesit het.

Hulle is na dié koshuis om die lid van AfriForum wat Donderdag glo aanmerkings oor verkragting teenoor ’n vroulike student gemaak het, te gaan soek. Die lid is blykbaar ’n inwoner van Helshoogte.

Die groep het die koshuis binnegegaan en daarop aangedring om met die AfriForum Jeug-lid en die koshuis se primarius te praat.

Hulle het ook vullisdromme in die ontspanningsaal uitgegooi en foto’s van die mure afgehaal.

Die gewilde TV-persoonlikheid Mariëtta Kruger was ­gistermiddag laat in gesprek met die skrywer Marlise Scheepers tydens die bekendstelling van Scheepers se boek Sjef Snoekie Laat die Potte Sing toe die vroue die De Vette Mossel-lokaal in Ryneveldstraat binnegeval het.

Volgens Hendri Warricker van Lapa-uitgewers het van die vroue, wat hy skat tussen 18 en 23 jaar oud is, kaal bolyf die ­lokaal binnegekom, terwyl ander kleefband oor hul borste geplak het en ander plastieksakke oor hul koppe getrek het waarin net gaatjies vir hul oë gesny is.

Warricker het gesê die groep het hulself as die Anti Rape Campaign geïdentifiseer en gesê hul protes is in reaksie op ’n beweerde aanmerking wat ondersteuners van AfriForum Jeug glo Donderdag op die kampus tydens ’n protesoptrede gemaak het.

Die voorblad van Marlise Scheepers se nuwe kookboek wat bekend gestel is. Foto verskaf

Johan Pienaar, ’n aktivis van Stellenbosch, het vroeër aan Netwerk24 gesê hy het tydens dié protesaksie in die bresse getree vir ’n vrou wat glo deur AfriForum-ondersteuners met verkragting gedreig is.

George Germishuys het berig dat Marcus Pawson, woordvoerder van AfriForum Jeug, dié bewering ontken.

Warricker het gesê die lokaal se klank en ligte is gister onmiddellik afgeskakel toe een van die vroue oor ’n megafoon begin praat het.

Scheepers se pa het probeer om met die groep in gesprek te tree, maar is toe glo met wyn gegooi.

“Dit het toe ’n bietjie luidrugtig geraak en van hulle het op die tafels geklim en gesing,” vertel Warricker.

Alles was egter binne tien minute verby, het hy bygevoeg.

“Hulle is al singende hier weg.”

Die bekendstelling is kort daarna hervat.

“Sulke goed gebeur maar,” meen Scheepers.

Aanvanklik was sy nie seker wat aan die gang was nie, maar later het sy en Kruger met oop monde gesit, het Scheepers vertel.

Eintlik het sy gedink dit is dalk ’n verrassing wat De Vette Mossel vir haar gereël het, juis omdat die groep so mooi gesing het.

Maar sy het gou haar fout besef.

“Kyk, mense kan opstaan of huil of vloek of vuiste slaan of protes lewer. Laat hulle dit uitkry en dan is dit verby,” het sy gesê.

“Jy kan besluit of dit jou aand gaan bederf of jy kan sê: Kom ons maak skoon en gaan verder en beweeg vorentoe.”

Van die vroue beset die ontspanningsaal van Helshoogte. Hulle het glo gewag vir ’n inwoner van die koshuis wat Donderdag ’n aanmerking oor verkragting teenoor ’n vrouestudent sou gemaak het.Foto: Jaco Marais

* Wat sê Saartjie?

Saartjie Botha Foto: Jaco Marais

Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees, het gisteraand bevestig dat AfriForum nie deel is van die Woordfees-program nie. Die bevestiging is gegee omdat die groep betogers die bewering gemaak het.

Daar is spesifiek verwys na Flip Buys, die uitvoerende hoof van die vakverbond Solidariteit, wat deel van ’n gesprek by die fees gaan wees.

Botha het bevestig dat Buys saam met Zwelinzima Vavi, voormalige sekretaris-generaal van Cosatu, en die arbeidsjoernalis Jan de Lange genooi is om deel te wees van ’n paneelbespreking oor die toekoms en die rol van vakverbonde in Suid-Afrika.

Die fees gun die protesgangers hul stem indien daar op ’n verantwoordelike wyse teen ongeregtigheid beswaar gemaak word, het Botha gesê.

“Voorvalle soos hierdie maak dit egter baie moeilik om op ’n sinvolle wyse oor werklike brandpunte in die Suid-Afrikaanse samelewing te besin.” 

<
Meer oor:  Stellenbosch  |  Betogers  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.