Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Betogers op N2 beseer 3 mans, rig groot skade aan
Digte rookwolke nadat onder meer busse en ’n vragmotor op die N2-snelweg aan die brand gesteek is. Foto: Jaco Marais
Die digte rook nadat onder meer drie busse op die N2-snelweg aan die brand gesteek is. Foto: Jaco Marais
Betogers het die pad met betonblokke, brandende bande, bakstene en ander rommel versper. Foto: Jaco Marais

Drie mans het kopbeserings opgedoen toe betogers hulle Donderdag op die N2-snelweg by Khayelitsha met klippe gegooi het.

Die betogers het ook drie Golden Arrow-busse, ’n vragmotor van Checkers, ’n motor en twee graafmasjiene aan die brand gesteek en klippe na verbygaande motors geslinger.

Wetstoepassers verwyder klippe en bakstene wat die betogers in die pad gegooi het. Foto: Jaco Marais

Hulle eis dat dienslewering in die gebied moet verbeter en dat grond wat tydens die koronaviruspandemie beset is van basiese dienste voorsien word.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie se eenheid vir openbare orde en ander wetstoepassingsagentskappe was op die toneel tussen die R300 en Baden Powell-rylaan.

’n Man wat deur die betogers met klippe raakgegooi is. Foto: Jaco Marais

“Baden Powell-rylaan in die rigting van die N2 is heropen, maar wetstoepassers hou die situasie dop.”

Luidens ’n verklaring van die departement van gesondheid is die provinsiale nooddienste op bystand en is die drie mans na die Delf-kliniek geneem.

“Die nooddienste kon egter nie mense op die toneel help nie omdat dit te gevaarlik was en die polisie het hulle geneem na ’n veiliger gebied waar die ambulanse hulle opgelaai het.”

Luidens ’n verklaring van die Kaapstad-metro is hy reeds maande lank met die besetters in gesprek.

“Die meerderheid van die besettings is op grond wat nie vir menslike bewoning geskik is nie en die metro het die besetters herhaaldelik aangeraai om hulle nie hier te vestig nie.”

Die metro sê dat die grondbesettings ’n negatiewe impak op beplande projekte, gemeenskapsgeriewe, basiese dienste, die begunstigdes van behuisingsprojekte en die uitbreiding en instandhouding van infrastruktuur het.

Nog ’n man is deur die betogers met klippe raakgegooi. Foto: Jaco Marais

Die metro moes sommige van die Dial-a-Ride-busdienste, wat dele van Khayelitsha, Kruispad, Makhaza, Philippi en Mfuleni bedien, tot verdere kennisgewing opskort. Gevolglik word ongeveer 30 mense met spesiale behoeftes wat van die DAR-busse gebruik maak, geraak.

Die Golden Arrow-busdienste in Makhaza is ook opgeskort.

“Dit is onaanvaarbaar dat gewelddadige betogings die regte van wetsgehoorsame inwoners ondermyn en hulle toegelaat word om eiendom te vernietig, maar nie gestraf word nie,” sê Felicity Purchase, burgemeesterskomiteelid vir vervoer.

’n Motor wat die betogers aan die brand gesteek het. Foto: Jaco Marais
Wetstoepassers hou die situasie dop. Foto: Jaco Marais

“Ek doen ’n beroep op wetstoepassers om alles in hul vermoë te doen om die oortreders in hegtenis te neem. Hierdie wetteloosheid kan nie voortgaan nie.

“In hierdie stadium kan die metro nie die omvang van die skade en vandalisme bepaal nie, want dit is te gevaarlik vir die amptenare. Dit sal wel gedoen word wanneer dit veilig is,” lui die verklaring.

Meer oor:  N2  |  Khayelitsha  |  Betogings  |  Beserings  |  Skade  |  Betogers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.