Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Betogers verjaag rektore en plunder op kampus
Betogers van Open Stellenbosch sit op die verhoog waar Max Price, rektor van die Universiteit van Kaapstad, en Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch, in gesprek was met Henry Jeffreys by die Woordfees in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Betogers het die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, en Max Price, rektor van die Universiteit van Kaapstad, Donderdagaand tydens ’n gesprek oor die stand van universiteite in Suid-Afrika verjaag. Nadat hulle by die gesprek weg is, het van die betogers volgens EWN glo 'n motor naby Admin B aan die brand gesteek en toe iets wat soos 'n petrolbom gelyk het deur die agterste ingang van die gebou gegooi. 

Die polisie en brandweer was op die toneel.

’n Handjievol betogers het die diskoers, wat deel van die Woordfees vorm, omstreeks 19:40 ontwrig.

Aanvanklik het die betogers net op die verhoog gaan sit terwyl die gesprek aan die gang was, maar begin argumenteer met gehoorlede toe dié versoek het dat die gesprek kan voortgaan.

“Watter taal praat jy? Ek aanvaar nie jou taal nie,” het een van die betogers gesê nadat ’n gehoorlid in Afrikaans kapsie gemaak het.

Die gesprekleier, Henry Jeffreys, voormalige redakteur van Die Burger, het probeer om die betogers by die gesprek te betrek en hul name gevra, waarna die betogers oproerig geraak het en beskuldigings van rassisme begin uitskree het. De Villiers en Price het vir ’n ruk bly sit en ook probeer om met die student te praat, maar het later die lokaal verlaat.

Price is onderweg na sy motor voorgekeer.

“Het ons vir Mandela gefaal? Nee, Mandela het vir ons gefaal!” het hulle vir hom geskree nadat Price na bewering vir ’n betoger gesê het dat hulle oudpres. Nelson Mandela in die skande steek.

Toe Netwerk24 die gebeure met ’n selfoon wou afneem, het twee vroue begin vloek, die selfoon gegryp en op die grond gegooi.

“F***f jou p***s! F*k die media!” het die vroue geskree.

Saartjie Botha, die feesdirekteur, asook Karen Meiring, kykNET, een van die fees se hoofborge, se kanaalhoof, het probeer om die situasie te kalmeer en sekuriteit is ingeroep.

Dit was ’n goeie geleentheid (vir gesprek) wat tot verlore gegaan het.

De Villiers het homself vinnig uit die voete gemaak, maar nadat Price by sy voertuig voorgekeer is, is hy eers terug na die lokaal totdat die betogers aanbeweeg het.

Frieda le Roux, mediabestuurder van die Woordfees, het gesê hoewel hulle enige protes teen werklike ongeregtigheid steun, is hierdie nie die manier om in gesprek te tree nie.

“Dit was ’n goeie geleentheid (vir gesprek) wat tot verlore gegaan het.”

De Villiers het ook die verspeelde kans om in ’n konstruktiewe gesprek te tree, betreur. “Daar is oop kanale wat studente en personeel enige tyd kan gebruik om kwessies wat hulle pla, te opper.” Hy het ook gesê die studente se optrede was onaanvaarbaar, juis omdat die gesprek wou fokus op van die vraagstukke wat vir die studente belangrik is.

Le Roux het bevestig dat hulle bykomende voorsorgmaatreëls getref het vir die gesprek na aanleiding van protesaksies op kampus vroeër die dag en was gereed vir moontlike betoging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.