Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Beurtkrag: SA betaal nou vir staatskaping

Eskom bevind hom in ’n nood- en krisistoestand.

Die uiteindelike erkenning uit owerheidsweë het Donderdag gekom van niemand minder nie as Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings - wat Suid-Afrikaners toe ook sommer onvoorwaardelik om verskoning gevra het vir die ongerief wat deur beurtkrag veroorsaak word.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op Donderdag se nuuskonferensie in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

“Suid-Afrika betaal nou die prys vir die staatskaping van Eskom en die verouderde kragstasies,” het Gordhan gesê ná ’n vergadering met die topbestuur van Eskom by Megawattpark, Eskom se hoofkantoor in Johannesburg waarop noodplanne bespreek is om die huidige situasie te beredder.

“Ons het ure lank vergader om presies te bepaal wat aan die gang is.”

Gordhan het op ’n mediakonferensie na die vergadering gesê omdat die kragverskaffer hom in ’n nood- en krisistoestand bevind, het dit nodig geword om mense met vaardighede na kragstasies te stuur om te help om die huidige kragkrisis op te los.

“Hierdie krisis van die laaste tien dae het nie oornag ontstaan nie. Dit kom al oor ’n tydperk van tien jaar aan,” het Gordhan erken.

“Ons verstaan dat die kragonderbrekings die publiek irriteer,” het die minister gesê. Hy het ook begrip daarvoor dat hulle bekommerd is.

Gordhan het erken Eskom kommunikeer nie goed oor die situasie nie maar het onderneem dat die publiek van volgende week af beter ingelig sal word.

Hy het darem ook goeie nuus gehad: Gordhan hoop beurtkrag wat Suid-Afrikaners die laaste week gereeld in die donker laat, teen Kersfees iets van die verlede sal wees.

Hy het sakelui die versekering gegee dat wanneer die meeste maatskappye teen middel Januarie volstoom begin werk ná die vakansie, dinge beter sal gaan en die stelsel meer stabiel sal wees.

Om seker te maak dit gebeur, is die verlof van senior personeellede van Eskom gekanselleer.

Hy het ten sterkste ontken daar is enige planne om Eskom te privatiseer. “Dit is blote verkiesingspraatjies,” het ’n omgekrapte Gordhan gesê.

Hy het selfs sover gegaan om te sê daar is mense wat Eskom probeer saboteer. Hy het gesê daar is selfs voormalige senior personeellede van Eskom wat op Twitter boodskappe stuur oor die kragverskaffer, en dat dit niks minder as verraad is nie.

Forensiese ondersoeke is aan die gang om te bepaal wie hiervoor verantwoordbaar gehou moet word.

“Jy kan dié verraad met ’n klein- of ’n hoofletter skryf. Gaan kyk op Twitter en besluit self.”

Volgens hom is Eskom se topbestuur besig om ’n noodplan op te stel oor wat die volgende vyf jaar gedoen moet word. Dit sal later aan ’n groep deskundiges voorgelê word om te bepaal of dié planne uitvoerbaar is.

Pres. Cyril Ramaphosa sal binnekort ’n interministeriële taakspan aanstel om Eskom by te staan.

Gordhan sê dat daar probleme met die ontwerp en die toerusting van die Medupi- en Kusile-kragstasies is.

Hy het ook gesê “internasionale maatskappye soos Hitachi” het werk wat substandaard is, verrig. “Daar sal gevolge wees. As daar soveel geld op hierdie maatskappye bestee word en hulle lewer nie werk van gehalte nie, het ons ’n giftige kombinasie.”

Forensiese ondersoeke is aan die gang om te bepaal wie hiervoor verantwoordbaar gehou moet word.

Gordhan sê een van hul planne is om plaaslike kragstasiebestuurders te bemagtig en seker te maak hulle het die regte ondersteuningstrukture. Daar sal ook van die kragstasiebestuurders verwag word om bepaalde doelwitte te bereik.

“Hulle sal verantwoordelik gehou word.”

Gordhan sê Eskom het ’n uitdaging voor hom en die eerste doelwit is om beurtkrag uit die weg te ruim.

Jabu Mabuza, voorsitter van die Eskom-direksie, het op sy beurt gesê dat die probleme by Eskom nie deur die kragreus alleen veroorsaak is nie, maar deur “alle Suid-Afrikaners, sy regering en sy mense”.

Van die kernoorsake vir beurtkrag is volgens Gordhan:

Gebrekkige en onvoldoende instandhouding by kragstasies;

Te veel onbeplande onderbrekings vind plaas;

Te min geld is vir behoorlike instandhoudingswerk begroot;

Produksie neem af weens gebrekkige instandhouding;

Die stakings in Junie vanjaar het ook ’n wesenlike impak gehad;

Die heersende probleme kan deels ook voor die deur van Eskom en sy kontrakwerkers gelê word;

Eskom het nie genoeg aandag aan kontrakwerkers geskenk nie en

Die Medupi-kragstasie lewer nie die hoeveelheid krag as waarvoor dit gebou is nie.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Staatskaping  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.