Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bevelvoerder tree ná 40 jaar uit polisie

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied in Port Elizabeth, hang aanstaande week sy blou uniform ná meer as vier dekades op.

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied in Port Elizabeth. Foto: Verskaf

Maar sy kalender is nog so vol met daaglikse polisiebestuurwerk, dat hy nog nie eens tyd gehad het om oor planne vir sy aftrede na te dink nie.

“Vir eers moet ek vergeet van selfone en roetines. Ek gaan net rustig wees, seker vir die eerste keer in sowat 40 jaar. Dit is hoe ek gaan leer om ’n pensionaris te wees,” skerts Rabie.

Hy tree op 30 Junie amptelik af.

As boorling van De Rust in die Wes-Kaap het hy vroeg sy liefde vir speurverhale ontdek en gedurende sy hoërskooldae by die Hoërskool Môrester in Oudtshoorn besluit om self een van die karakters in die boeke te word.

Net ná sy opleiding by die polisiekollege is hy na die Middelburg-polisiekantoor in die Oos-Kaap uitgeplaas, waar hy binne tien jaar tot luitenant gevorder het.

Daarna was hy ’n paar jaar in Port Elizabeth, waar hy die speurtak by die KwaZakhele-polisiekantoor op die been gebring het, voordat hy na die Booysens-polisiekantoor in Johannesburg oorgeplaas is.

Daar is Rabie later as adjunk-gebiedshoof van Johannesburg se speurdiens aangestel.

In 2005 het Rabie na die Oos-Kaap teruggekeer as hoof van die provinsie se speurders, voordat hy in 2009 as bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied aangestel is. Van 2017 tot nou is hy die bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied.

Vir Rabie is dit moeilik om ’n enkele hoogtepunt in sy loopbaan uit te wys, omdat hy meen elke pos het sy unieke uitdagings.

Van die speurtak se stigting in KwaZakhele, tot by die ontbloot van smokkelsindikate in Gauteng, asook die stig van ’n teenbende-eenheid in Port Elizabeth, meen Rabie is alles vir hom veertjies in sy hoed wat hy koester.

Genl.maj. Dawie Rabie destyds in die polisiekollege. Foto: Verskaf

Hoewel hy erken daar is steeds baie werk wat voorlê om bendegeweld in Port Elizabeth se noordelike voorstede uit te roei, is hy trots oor die vordering wat gemaak is.

“Ons het die bende-eenheid in 2009 begin. Dit was ’n moeilike stryd om almal deel te kry. Maar later het ons selfs toegewyde staatsaanklaers van die nasionale vervolgingsgesag gekry wat gefokus het op bendesake. Die suksesse is uiteindelik van 2013 af begin sien.”

Hy sê bendes bestaan al van die 1960’s in die stad, en hoewel die name verander, word dieselfde modus operandi vandag nog gebruik.

“Daar waar die staat nie kan voorsien aan mense nie, verskaf bendeleiers aan die gemeenskap. Met hul onwettige geld, trek hulle die hele gemeenskap in by hul mag, maar dit kom altyd teen ’n prys,” waarsku Rabie.

Hy meen die hele gemeenskap sal hul rug op die bendes moet draai, voordat die probleem werklik kan verdwyn.

“Al tree ek af, sal die polisie altyd in my bloed wees en ek sal maar nog gereeld ’n oog hou op sake in die stad.”

Meer oor:  Motherwell  |  Aftree
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.