Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Bewaarder het my seun met knuppel aangerand’

’n Aanklag van aanranding word teen ’n tronkbewaarder ondersoek nadat hy verlede maand glo ’n gevangene met ’n knuppel geslaan het.

Dit volg nadat Milano Niewenhuis (28), wat tronkstraf in die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria vir winkeldiefstal uitdien, se ma haar stem gaan dik maak het by die tronkowerhede omdat haar kind glo al vir dae sonder mediese hulp gelê het.

Lynn Jacobus vermoed haar seun is aangerand omdat hy gehoor het van die betrokke bewaarder se beweerde betrokkenheid by dwelmhandel in die tronk.

“Ek het so drie weke terug begin bekommerd raak omdat ek niks van Milano gehoor het nie. Hy moet bel van die tronk se telefoonhokkie af, want ek kan hom mos nie bel nie.

“Uiteindelik daai Maandag bel hy en sê: ‘Ma, ek kan nie lank praat nie want hulle wil nie hê ek moet bel nie. Ek is aangerand’,” vertel Jacobus.

Ma, ek kan nie lank praat nie want hulle wil nie hê ek moet bel nie. Ek is aangerand.

Die volgende dag het die ma by die tronkbestuur se kantoor ingestap, vertel haar kind lê in sy sel in pyn en sonder mediese hulp en dat sy vrees vir sy lewe.

“Hulle het Milano en die bewaarder ingeroep. My seun se oog was blou, sy lyf pers geslaan en dit het gelyk of sy arm gebreek is.

“Hy is só met ’n knuppel geslaan en was al vyf dae in pyn voordat hy my kon bel,” sê die ma.

Daar, voor die “grootkoppe”, het Niewenhuis vertel dat hy ná ’n kerkbyeenkoms in die tronk die gang afgestap het waar twee medegevangenes aan die stry was.

Niewenhuis het hulle probeer kalmeer.

Volgens wat die ma vertel, het die twee ander gevangenes oor dwelms gestry. Die een is vriende met die betrokke bewaarder, wat, aldus haar en Niewenhuis, help om dwelms vir gevangenes die tronk in te smokkel.

“En Milano het dit gehoor. Toe die een medegevangene wegstap, toe begin die bewaarder vir Milano slaan sodat hy nie moet praat oor wat hy gehoor het nie,” sê Jacobus.

Die bewaarder het dit ontken en gesê Niewenhuis was die een wat met ’n medegevangene baklei het oor dwelms.

“Toe vra ek die bewaarder nou wie het dan my kind so geslaan en hoekom het hy nie behandeling gekry nie.”

Sy is belowe dat die voorval ondersoek sal word en Niewenhuis na die tronkdokter geneem sal word.

Hiervoor is Jacobus dankbaar.

“My kind doen sy tyd. Hy dien sy straf uit. Dit is nie nodig om hom nog meer te straf nie,” sê sy.

Zandile Mabunda, Gautengse woordvoerder van die departement van korrektiewe toesig, bevestig dat ’n “voorval van beweerde aanranding” onder die aandag van die Atteridgeville- korrektiewe sentrum en die Kgosi Mampuru II-tronkbestuur gebring is.

Iemand is “dadelik” aangewys om die voorval te ondersoek.

“Oortreder Milano Niewenhuis is ook bygestaan om ’n klag by die polisie in te dien oor die beweerde aanranding.

“Sy ouers was by die (korrektiewe) sentrum en die proses is aan hulle verduidelik.

“Luidens die rekord van die korrektiewe sentrum se kliniek het hy mediese aandag ontvang vir ’n geswelde arm,” sê Mabunda.

Jacobus is ook ingelig dat die tronkowerhede volgende week terugvoering oor hul ondersoek sal gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.