Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bfn-musikant se geliefde hond aan pofadderbyt dood
Verskeie foto’s van Dixie wat speel. Regs onder is sy saam met haar baas, Naledi Mohapi.

Die labrador-reun wat ’n Bloemfonteinse musikant as gr. 9-leerling met sy spaargeld gekoop het, is vandeesweek aan ’n pofadderbyt dood.

Naledi Mohapi van die musiekgroep Simple Stories se Dixie, wat op 12 Augustus tien jaar oud sou word, is Dinsdagaand dood.

Dixie het by Mohapi se ma, Puseletso, in Pellissier gewoon omdat sy ’n veel groter erf as hy en sy vrou, Isabel, het.

Dixie, die hond wat die Bloemfonteinse musikant Naledi Mohapi as tienerseun met sy spaargeld gekoop het.

Puseletso het tydens die voorval by hulle in hul woonstel in Brandwag gekuier.

Mohapi, ’n oudleerling aan Grey Kollege, sê sy ma het omstreeks 18:00 teruggegaan huis toe. Daar het sy ’n brief van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) teen die hek gekry. Volgens die brief het die DBV die hond geneem en die eienaar is versoek om die vereniging dringend te skakel.

“Sy het by die erf ingekyk en ’n slang op die grond gesien lê. Die ander twee honde (’n worshond en ’n kruisras-hond) het wild geblaf.”

Die pofadder het vermoedelik uit die veld na die huis gekom.

Puseletso het Mohapi dadelik ontbied, waarna die DBV gebel is.

Dixie, wat in Augustus ’n dekade oud sou word.

Hy sê drawwers het verby die huis gehardloop en gesien dat die hond vir iets by die muur blaf.

“Hulle het nader gegaan en gesien dat die slang na die huis op pad was.

“Dixie het die slang gegryp en rondgeskud. Die pofadder het hom aan die lip gebyt, waarna hy die slang afgeskud het.”

Die drawwers het die DBV geskakel.

“Hulle het oor die draad gespring want hulle het gesê hulle kon nie toekyk hoe die slang al drie honde in die erf doodmaak nie.”

Die beseerde pofadder is met bakstene doodgegooi, sê Mohapi. Die drawwers het ’n mat op die erf opgetel en Dixie oor die hek getel.

Dixie was in daardie stadium reeds baie swak en volgens Charmaine Engelbrecht, DBV-inspekteur, het hy teen die hek gelê toe hulle opdaag.

“Sy asemhaling was baie stadig maar dan sou hy skielik sy kop oplig. Hy het so hard probeer om teen die gif te baklei.”

Naledi Mohapi. Foto: Facebook

Hy is met pynmedisyne en ’n drup gestabiliseer totdat sy eienaar opgedaag het, sê Engelbrecht.

Volgens haar kan ’n veearts nie sonder die toestemming van die eienaar ’n hond teengif gee nie, veral omdat dit baie duur is.

“Die veearts het vir my verduidelik dat al gee jy die teengif, hang dit van hond tot hond af en hoe ernstig die wond is.”

Volgens Mohapi het die veearts gesê hulle kan om 19:45 na die spreekkamer kom. Minute ná hul aankoms het hulle egter die tyding ontvang dat Dixie nie die slangbyt oorleef het nie.

Mohapi sê Dixie was baie vriendelik en die beste gesinshond. Hy het nooit vreemd opgetree nie.

“Hy het altyd my ma, my en die huis beskerm.”

Meer oor:  Musikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.