Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bfn-stadsaal kan dalk herstel word
Die binnekant van die stadsaal wat in puin gelê is. Foto: Facebook

Die afgebrande Bloemfonteinse stadsaal kan grootliks tot sy eertydse glorie herstel word, omdat die strukture van die mure stabiel blyk te wees, maar die kunstige handgekerfte houtwerk van weleer is daarmee heen.

So meen Sunil Poken, argitek van die Mangaung-metro. Hy sê dit is moeilik om nou al te sê wat alles gedoen kan word, omdat die polisie se forensiese ondersoeke die afgelope twee dae daar aan die gang was nadat die gebou Woensdag afgebrand het.

“Ons is nog nie toegelaat om die gebou binne te gaan nie, maar van buite af lyk dit asof die mure steeds stabiel is. Rookskade blyk ’n groter probleem te wees.

“Dakteëls kan moontlik weer van die buiteland af ingevoer word, indien dit nog gemaak word. Dit is presies dieselfde dakteëls wat ons ’n paar jaar gelede van die buiteland vir die dak van die nabygeleë brandweerstasie ingevoer het,” sê hy.

Hy sê die besonderse houtvloer is seker heeltemal uitgebrand.

Poken, wat ’n groot liefde vir die Bloemfonteinse stadsaal het, sê die gebou was beslis een van die groot historiese monumente van die stad.

“Ek was baie teleurgesteld toe ek hoor die gebou het afgebrand. Dit is werklik ’n groot ramp en ’n tragedie.”

Die gebou het Woensdagaand afgebrand kort nadat Samwu-stakers daar vergader het.

Ek neem aan die meeste van ons geboue is verseker.
Qondile Khedama, hoofbestuurder van die Mangaung-metro

Intussen sê ’n ingeligte van die brandweer dit is nog nie seker of die Steinway-konsertklavier wel in die gebou was nie.

“Ons het so ’n klavier in die Rosesaal in die Bram Fischer-gebou. Ek kan nie onthou dat daar so ’n klavier in die stadsaal gestaan het nie. Ons sal moet uitvind.”

Dr. Jan Beukes van die departement musiek van die Universiteit van die Vrystaat (UV) sê so ’n Steinway-konsertklavier kos nuut deesdae etlike miljoene rande. “Daardie klavier wat in 1936 in Hamburg in Duitsland gemaak is, kon meer as ’n miljoen rand gewees het, maar in die toestand waarin hy was, sou hy dalk nie meer vir daardie bedrag verkoop kon word nie.”

Intussen sê Qondile Khedama, hoofbestuurder van die Mangaung-metro, dit is nie seker of die gebou verseker was nie. “Ek neem aan die meeste van ons geboue is verseker.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.