Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bibi dra Affies-pet in solidariteit
Bibi Slippers dra die Affies-pet agter die skerms van Die ware naarheid. By haar is Erns Grundling, ’n korrespondent van die program. Foto: Facebook

Bibi Slippers sê sy is nie juis bang dat oudleerlinge van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria haar nou óók gaan jag omdat sy ’n Affies-pet gedra het nie.

Slippers het die pet Maandagaand in haar insetsel op die satiriese nuusprogram Die ware naarheid op kykNET gedra.

“Ek is nie werklik teenwoordig op die jagveld, Facebook, nie. Ek het ’n enkele inbox message op Instagram ontvang van ’n Affies-seun wat in verskeie foto’s pose met ’n jaggeweer, so miskien moet ek versigtiger wees,” sê sy laggend.

Slippers sê sy het met die dra van die pet solidariteit getoon met Juané Slabbert, wat beweer sy is deur oudleerlinge van Affies gedreig omdat sy ’n Affies-pet gedra het.

Slabbert (25) dagvaar 26 oudleerlinge omdat hulle haar glo gedreig en verkleineer het nadat sy dié pet gedra het. Dit is glo Affies-tradisie dat net leerlinge en oudleerlinge van die skool die pet mag dra.

Daar was wel heelwat boodskappe wat op minder vleiende maniere gevra het dat ons nie die pet moet gebruik nie.

Die oudleerlinge, wat in 2015 in matriek was, het luidens hofstukke in Augustus daardie jaar ’n WhatsApp-groep begin waarin Slabbert glo met geweld gedreig is nadat sy ’n Affies-pet op ’n partytjie saam met oud-Affies gedra het.

Een van die seuns het aan haar geskryf: “juane ek ken jou rrg van geen c**t af nie . . . ma ek verstaan jy kry nie aandag by enige ou nie (well duh jyhs v*kken lelik) . . . so as jy weer biqi aleen voel, los net ons pet uit en v*kkof” (sic).

In Die ware naarheid kritiseer die aanbieder, Schalk Bezuidenhout, ook die manier waarop daar met Slabbert gepraat is.

“Eerstens wil ek net vir die spesifieke oud-Affie wat hierdie poësie geskryf het, sê: As jy vir iemand gaan sê om te f off, spel dit asseblief met ’n kierietjie-f. Nie ’n voëltjie-v nie. Weet jy wat begin met ’n ‘v’? Verdediging. En jy gaan binnekort baie daarvan in die hof nodig hê. Nog ‘v’-woorde sluit in ‘veral’ en ‘vrou’, want ’n mens praat nie so met enigiemand nie, en veral nie met ’n vrou nie.”

Bibi Slippers dra ’n Affies-pet in haar insetsel op Die ware naarheid. Foto: Skermgreep

Bezuidenhout sê verder hy verstaan die pet is vir die leerlinge ’n simbool van trots, maar dat dit nie hul optrede regverdig nie.

“As dié tipe gedrag verteenwoordigend is van die kultuur wat in jul skool gekweek word, sal ek dadelik daai hoed afhaal en my kop in skaamte laat sak. Regtig, kêrels. Dis slordig. Om te daal tot hierdie vlak omdat ’n meisie jou skool se hoedjie gedra het, is wragtig petty.”

In Slippers se insetsel het die boodskap “As hierdie pet jou pla, stuur ’n WhatsApp na 076 680 8565” op die skerm gewys.

Volgens die program se vervaardiger, Scharl van der Merwe, het hulle meer as 210 boodskappe ná afloop van die uitsending ontvang.

“Baie mense was ondersteunend en het die tong-in-die-kies-kommentaar geniet. Daar was wel heelwat boodskappe wat op minder vleiende maniere gevra het dat ons nie die pet moet gebruik nie.

“Van wat ons kon aflei, was dit meestal van huidige of oud-Affies wat nie verstaan het dat ons nie met hulle tradisie spot, of enige standpunt teen hulle inneem nie, maar eerder solidariteit toon met Juané Slabbert en ander vrouens wat deur afknouery en geweld geteiken word.”

Meer oor:  Affies  |  Bibi Slippers  |  Juané Slabbert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.