Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bielie van ’n tuna laat rekords spat

Die enigste vis wat onlangs in ’n tuna-hengelkompetisie in Houtbaai in die Wes-Kaap geweeg is, was ook een wat talle rekords laat spat het.

Die blouvintuna, wat die skaal op 147,15 kg getrek het, het Delon Walker (49) en sy hengelspan minstens twee uur laat swoeg.

Die Mini Tuna Derby is in die naweek van 14 en 15 November gehou, en tot Walker se verbasing was dié bielie van ’n vis die enigste wat ingeweeg is.

Benewens ’n kontantprys van R25 000 en genoeg vis om twee vrieskaste vol te maak, het die blouvintuna, volgens Walker, ses rekords – waaronder die WP-, Suid-Afrikaanse en Suider-Afrikaanse rekords vir die visspesie – verbeter.

Walker, ’n boorling van Boksburg in Gauteng wat 30 jaar gelede na die Wes-Kaap verhuis het om hom by die vloot aan te sluit, sê hy het sy eerste vis op die ouderdom van ses gevang, en in sy 43 jaar van hengel het hy nog net een keer ’n vis swaarder as 100 kg uitgetrek.

Moeg geswoeg, maar Delon Walker kon ná sowat twee uur met die bielie van ’n blouvintuna vir ’n foto poseer. Foto: Verskaf

Selfs nie eens een van die talle kliënte van Heliox Charters, waarmee skipper Walker hengelaars op ekskursies op die diepsee neem, kon al ’n tuna van dié kaliber met sukses inkatrol nie.

Die geheim van dié sukses is eenvoudig: “Die regte plek, die regte tyd en die regte vals aas, maar natuurlik ook goeie spanwerk.

“Ek kan nie vir jou sê hoeveel keer die vis bitter naby daaraan was om weg te kom nie,” sê Walker.

Toe Walker eers die tuna gehaak het, kon hy dadelik voel dit is ’n bielie. “Ek kon duidelik voel die vis het gewig. Hy was sterk en slim. Die vis het op en af geswem, sommer so 200 m af.”

Delon Walker staan langs die blouvintuna wat 147,15 kg geweeg het. Foto: Verskaf

Walker het ’n uur en 20 minute gespook om die vis tot langs die boot in te katrol. Die span het eers asem geskep en kragte opgebou voordat hulle nóg ’n uur gestoei het om die vis op die boot te kry.

“Dit was ongelooflik. Almal het eers net gaan sit en die oomblik ingeneem. Dit is iets besonders om so ’n mooi en groot vis langs jou te sien.”

Boonop meen hy dié vis is topgehalte en proe byna soos steak.

Dit het sowat 80 kg se skoon vis opgelewer, wat tussen die vier spanlede verdeel is om saam met hul gesinne te geniet.

Walker het ook reeds uitgevind dat die wêreldrekord vir die grootste blouvintuna tans op Australië se kerfstok is. Daar is bykans slegs 20 kg verskil tussen sy vangs en die wêreldrekordvis, en dit gee hom opnuut hoop om eendag dié rekord vir Suid-Afrika te verower.

Meer oor:  Houtbaai  |  Rekords  |  Tuna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.