Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Biltong ‘trend’ in VSA danksy man van Pretoria

“Is dit ’n bul se tong?” vra Amerikaners wanneer Ben en Emily van den Heever hulle aan biltong voorstel.

“Die uitspraak van die woord is die grootste struikelblok,” sê Ben van den Heever, medestigter van

Brooklyn Biltong. “As hulle eers daardie deel onder die knie het, is hulle gou oorgehaal.”

Ben en Em van den Heever het in Amerika ontmoet maar hou daarvan om Suid-Afrikaans kultuur met Amerikaners te deel.

Die voorstad Brooklyn, en veral Williamsburg, in New York is bekend vir roller derby, vintage klere, musiekuitvoerings en Lena Dunham se TV-reeks Girls. Een van die sleutelwoorde wat jy nie in ’n beskrywing vir dié hipster-hoofstad verwag nie, is “biltong”.

Maar dis hier waar Ben, ’n Suid-Afrikaanse rekenaarprogrammeerder, en Emily, ’n Amerikaanse grafiese ontwerper, besluit het om biltong aan Amerikaners te bemark. Die paartjie, wat ook deel is van ’n musiekgroep, beskryf hul produk as “die Suid-Afrikaanse liefdeskind van beef jerky en prosciutto”.

’n Aanlyn video waarin die Van den Heever’s Brooklyn Biltong aan Amerikaners verduidelik, word tans wyd gedeel in die sosiale media. “Verbeel jou die lewe sonder pizza of soesji. Dís jou lewe sonder biltong,” sê Ben in die video. Die video is oorspronklik verfilm as ’n oudisie vir die Amerikaanse TV-program Shark Tank.


Beef jerky is biltong se gewilde, maar ongesonder Amerikaanse familielid. Maar anders as biltong word beef jerky met hitte-metodes uitgedroog wat veroorsaak dat dit droog is, terwyl biltong sappig bly omdat dit in vars lug uitgedroog word.

Brooklyn Biltong het sy Amerikaanse eweknieë onlangs uitgestof toe dit aangewys is as die beste “beef jerky” in die land deur die gesondheidswebtuiste

Eat this, not that.

Die naweek voor hul troue in Julie 2012 het Ben ’n koelkas van hout met die hand gebou om sommer self in hul woonstel in Brooklyn biltong te maak vir hul trougaste. Amerikaanse trougaste kon nie genoeg van die peuselhappie kry nie. “Ek wens dit was in die troukoek!” sê Emily.

Die volgende dag, toe die paartjie die oorskiet troukos aan verbygaande haweloses van hul stoep af uitgedeel het, het dit hulle getref: Biltong is voedsaam, dit bevat baie proteïne en dit bederf nie vinnig nie.

“Almal wat biltong proe, kan nie weer teruggaan na gewone beef jerky nie,” sê Emily in die video.

Vandag verkoop hulle sowat 680 kg se biltong elke maand en vandeesmaand het hulle die meeste biltong nóg verkoop.

Ben en Emily van den Heever bemark met sukses biltong aan Amerikaners. Foto: Verskaf

Hoewel daar twee groter biltongvervaardigers in Amerika is, mik die ander handelsmerke daarop om die Suid-Afrikaanse mark te teiken, waar die Van den Heevers biltong “vertaal” en aan Amerikaners bemark.

“Daar is ’n reuseaanvraag daarvoor,” sê Ben. “Die mark vir jerky het ’n markkapitalisasie van $1,5 miljard. Die aanvraag vir gesonder happies groei veral noudat hoëproteïendiëte, ‘skoon’ eetplanne en die Paleo-eetplan so gewild is.”

Ben het in 1999, toe hy 17 was, saam met sy gesin na Florida in Amerika verhuis uit Pretoria-Oos waar hy in die hoërskool Die Wilgers was. Sy ma het vir hom ’n foto van Emily uit New York gestuur en hom aangepor om haar te e-pos, wat hy toe ook gedoen het.

“Wat my oorgehaal het om Ben te ontmoet, was die laaste sin in sy e-pos,” sê Emily. “Hy het geskryf: ‘Dit sal baie lekker wees om jou te ontmoet en dalk kan ons eendag saam ’n besigheid bedryf.’ ”

Ben se oupa Dawie was ’n slagter in Tuine, Pretoria, en hy wou aanvanklik graag sy oupa se resep vir “die beste biltong in Pretoria” gebruik. “Ongelukkig het my oupa nooit sy resep neergeskryf nie,” sê Ben. “My oom het twee jaar gelede by ons gekuier en vir ons my oupa se proses gewys, maar wat die bestanddele betref moes ons dit maar uitdink en dit was nogal moeilik.”

Brooklyn Biltong bevat nie ongesonde geurmiddels wat Ben se oupa en talle Suid-Afrikaanse slaghuise gebruik het nie, die enigste preserveermiddel daarvan is sout en dit bevat ook geen suiker nie.

Die onderneming is egter nie oornag gevestig nie. Eers moes hulle ’n Amerikaanse vleisverwerker vind wat deur die VSA se department van landbou goedgekeur is. Toe moes hulle die Amerikaners leer hoe om biltong te maak en daarvoor moes hulle droogkabinette van Suid-Afrika af invoer.

Albei die Van den Heevers werk steeds voltyds en ’n derde Van den Heevertjie is op pad. Hulle het drie maande gelede na Florida verhuis, maar bedryf Brooklyn Biltong steeds volstoom. “My kleinnefies en kleinniggies kou aan stukkies biltong wanneer hulle tande kry en selfs my 13-jarige boetie wil in ons onderneming belê,” sê Emily.

So lyk Ben en Emily van den Heever se verpakte biltong. Foto: Verskaf

Die vreemdste reaksie op biltong wat hulle al ooit gekry het?

“Soms deel ek biltong uit op die moltreinplatforms in New York en een keer het ek ’n stukkie biltong voor ’n slapende vrou neergesit. Toe sy wakker word het sy geskree en dit weggeklap. Maar gewoonlik is mense mal daaroor,” sê Emily.

Elke Saterdag word biltong aan hawelose mense in Amerika uitgedeel deur die Homeless Bus, ’n organisasie wat die Van den Heevers ondersteun deur 10% van hul wins in die vorm van biltong te skenk.

“Die feit dat die haweloses weer in die ry gaan staan en vir nog biltong vra, is vir my ’n goeie teken,” sê Emily.

Meer oor:  Vsa  |  Trend  |  Biltong  |  Resep  |  Oupa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.