Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Binnelanders’-span bid vir ontvoerde Katlego

Akteurs en spanlede van die sepie Binnelanders het Dinsdag by Stark Studios in Randburg, Johannesburg, waar die sepie vervaardig word, bymekaar gekom om te bid vir Katlego Marite (13) wat Sondag voor sy huis in Witbank ontvoer is.

Sy suster, Masego, werk die afgelope paar jaar as klere-assistent op die stel van dié sepie.

Die ontvoerders eis glo 15 bitcoin (nagenoeg R1,5 miljoen) van die kind se ouers.

Die kerse wat vir Katlego Marite aangesteek is by Stark Studios in Randburg, waar die sepie Binnelanders vervaardig word. Foto: Verskaf

Ernst Swart, woordvoerder van Binnelanders, sê ’n kers is Maandag vir Katlego aangesteek.

“Masego is ’n baie belangrike deel van ons span en ons wou iets positiefs vir haar doen,” sê Swart.

Hy beskryf die vervaardigingspan as ’n hegte familie. “As iets met een gebeur, voel dit asof dit met almal gebeur.”

Die akteur Hykie Berg, wat die rol van Conrad Bester vertolk in Binnelanders, sê werknemers van die sepie het Sondag byeengekom om vir Katlego se veilige terugkoms te bid.

“Ek is baie lief vir Masego. Almal moet asseblief bid dat die kind veilig terugkom,” sê Berg.

Katlego, onderhoofseun van die Laerskool Duvhapark, het Sondagmiddag saam met twee vriende met sy hond om die blok gaan stap.

Katlego Marite

Volgens sy ouers wys videomateriaal van hul sekuriteitskameras hoe ’n Toyota Carolla om die draai van Frangipanistraat kom en Katlego by die kar ingetrek word. Dit was minder as 100 m van sy huis af.

Brig. Leonard Hlati, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, wou nie bevestig of die videomateriaal aan die polisie gegee is nie. “Ons wil nie nou inligting verskaf wat die seun se lewe in gevaar gaan stel nie.”

Hy sê die polisie ondersoek ’n saak van ontvoering.

Katlego se ma, Mirriam, sê familielede het hom by die polisiekantoor in Witbank as vermis gaan aanmeld. Toe hulle terugkom by die huis, was daar ’n kosblik op die sypaadjie. Die brief waarin aangedring word op ’n losprys, was in die kosblik. Die polisie kon nog nie vasstel of die brief eg is nie. Die kosblik behoort nie aan Katlego nie.

Luidens die brief sal Katlego onthoof word as die familie nie die losprys in die rekeningnommer op die brief inbetaal nie.

“ ’n Video sal dan aan julle gestuur word,” lui die brief.

Lolo Marite, Katlego se pa, glo die ontvoerders het Katlego geteiken omdat hulle in ’n luukse huis woon en welgesteld lyk.

Masego sê die vermeende ontvoerders het moontlik haar broer dopgehou.

“Sy vriend wat by hom was toe hy ontvoer is, sê die Corolla het die voorafgaande dae etlike keer stadig verby hulle gery.”

Sy het haar waardering uitgespreek teenoor haar kollegas by Binnelanders wat haar en die familie ondersteun.

Intussen is drie mense deur die polisie op Witbank ondervra, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Katlego Marite  |  Witbank  |  Bitcoin  |  Ontvoer  |  Losprys  |  Binnelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.