Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Birdeiland: ‘PW sê: Bring vir my die dossier’

’n Lêer met verklarings van getuies is glo sonder ondersoeker se wete uit sy kantoor gehaal en in die nag Kaap toe gejaag, skryf Herman Jansen.

Oudpres. PW Botha het in Maart 1987 persoonlik ingegryp om ’n polisieondersoek na ’n pedofiel-netwerk – wat moontlik lede van sy kabinet kon betrek – te kelder.

Dié opsienbare onthulling bevestig klaarblyklik die bewering van die oudpolisieman Mark Minnie dat sy ondersoek na dié skandaal in 

hoër kringe doodgedruk is.

’n Oudpolisieman wat sê hy het kennis van die gebeure, het vroeër die week een van die skrywers van die boek, Die seuns van Bird 

Island, per e-pos gekontak met die nuwe inligting. Hy het tydens ’n telefoniese onderhoud met Rapport bevestig dat Minnie wel aan so ’n saak gewerk het en dat die dossier sonder Minnie se medewete uit sy kantoor verwyder is.

Die oudkolonel wil nie geïdentifiseer word nie omdat “daar sprake van vergelding is”.

“Ek wil nie betrokke raak nie. Ek het net die Rapport-stories gesien en vir Chris Steyn (een van die skrywers) gekontak om te sê al sê Pik (Botha) hul boek is st**nt, is hulle op die regte spoor.”

Hy sê PW Botha het vir brig. Ernie Schnetler, destyds die afdelingskommissaris in Port Elizabeth, opdrag gegee dat hy (Botha) “môre 7:30 die lêer op sy lessenaar wil hê”.

Botha se opdrag is in aller yl uitgevoer. Die lêer is sonder Minnie se wete uit sy kantoor verwyder en luit. Gys Lombard “het reg deur die nag met radiobeheer se 3-liter-Ford Sierra van PE af Kaap toe gejaag” om dit die volgende oggend aan Botha te besorg, sê die oudkolonel.

Birdeiland

Minnie het die dossier, waaraan hy maande lank gebou het met onder meer verklarings en bandopnames van getuies, nooit teruggekry nie. Sy ondersoek was toe daarmee heen.

Botha se bemoeienis met die ondersoek was kort nadat die lyk van John Wiley (60), destyds die minister van omgewingsake en waterwese, op 29 Maart 1987 met ’n koeëlwond aan die kop in sy huis buite Kaapstad aangetref is. ’n Paar weke tevore is die lyk van Dave Allen (37), ’n Port Elizabethse vrygesel­sakeman en vriend van Wiley, met ’n skietwond aan die voorkop op die strand by Schoenmakerskop gekry. Allen moes die oggend van sy dood in die landdroshof verskyn op onder meer ’n klag van seks met minderjariges nadat Minnie hom die vorige dag by sy luukse huis gearresteer het.

Minnie skryf in Die seuns van Bird Island dat die geboeide Allen “soos ’n kanarie gesing het” in die motor op pad na die polisiestasie ná sy inhegtenisneming.

“Dan los hy ’n bom. Hy noem die naam van ’n magtige minister. Hy noem die naam van nóg twee ministers. Hy dreig om die hele miernes oop te krap. Hy is klaarblyklik nie bereid om alleen die skuld te dra nie,” skryf Minnie.

“Hy bied my omkoopgeld aan om alles te laat weggaan: R100 000 om presies te wees.”

Ná Wiley se dood het sy noue verbintenis met Allen ’n druk besprekingspunt in die media geword. Martin Welz, destyds ’n verslaggewer by Rapport, het die afgelope week gesê hy het destyds oor onbevestigde inligting beskik dat Botha vir Wiley gekonfronteer het oor sy vriendskap met Allen en dat dit die rede was vir sy selfmoord. (Sien berig hier-

onder).

Wiley se weduwee, Jeanne, en haar seun Jeremy tydens die geregtelike ondersoek na sy dood.

Die kolonel wat Rapport genader het, sê hy het na vore gekom om Minnie se weergawe van die verdwene dossier uit sy kantoor te staaf. Hy sê hy het glad nie met Steyn of Minnie kontak gehad voor die verskyning van die boek nie. Hy het ook nie destyds vir Minnie persoonlik geken nie.

Hy is egter oortuig dat daar “van die begin af” ’n toesmeerdery met die ondersoek was.

Hy onthou die dag toe die lêer sonder Minnie se toestemming uit sy kantoor in die destydse Louis le Grange-plein (vandag Mount Road-polisiekantoor) verwyder is: “Ek was in ’n offisiersvergadering toe Ernie Schnetler daar opdaag. Hy het gesê hy wou privaat gesels met die stasiebevelvoerder, kapt. Corrie van Rooyen.

“Ons ander is toe uit, maar Corrie het ons offisiere oor die gesprek ingelig nadat Schnetler weg is. Hy het toe gesê dat die opdrag direk van PW Botha af gekom het om Mark Minnie se dossier na hom toe te bring.

“Maar Minnie se baas by die narkotika-tak, Willie O’Connel – hy was toe ’n kaptein of luitenant – het volstrek geweier om die lêer aan Schnetler te oorhandig.

“Corrie van Rooyen en Gys Lombard het toe die duplikaatsleutel van Minnie se kantoor uit Van Rooyen se kluis gaan haal en die dossier verwyder.”

John Wiley

Die afgetrede kolonel sê Wiley was sonder enige twyfel ’n verdagte in die seksskandaal. Hy sê O’Connel het Wiley kort voor sy dood persoonlik in Kaapstad geskakel.

“O’Connel het Wiley toe ingelig dat hy, op grond van inligting in Minnie se dossier, ’n adjudantoffisier na Wiley gaan stuur om ’n waarskuwingsverklaring by hom af te neem.”

Oor Minnie sê die kolonel: “Hy was ’n goeie polisieman. Hy het sy werk deeglik gedoen. Met drugs en hoere gewerk. ’n Polisieman is maar ’n snaakse ding. As hy drink, drink hy sterk. As hy werk, werk hy hard.”

Genl. Magnus Malan

Minnie het Saterdag aan Rapport gesê die dossier wat destyds uit sy kantoor verwyder is, het net op sy ondersoek na Allen betrekking gehad.

O’Connel het Saterdagmiddag aan Dawie Boonzaaier gesê die bewering dat hy mede-offisiere probeer keer het om die dossier uit Minnie se kantoor te verwyder is nie waar nie.

Hy sê die bewerings oor die seksnetwerk is nuus vir hom en dat hy nie geld gaan mors op die boek nie. Hy sê hy was nie bewus van Minnie se ondersoek na die politici nie, omdat hy hoof van die narkotika-tak was en so ’n ondersoek nie onder hom sou val nie.

Schnetler, Lombard en Van Rooyen is reeds oorlede en kan dus nie enige van die bewerings bevestig nie.

Meer oor:  Magnus Malan  |  Dave Allen  |  John Wiley  |  Bird Island  |  Seuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.