Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Birdeiland: So sê getuies – dié wat onthou en dié wat wíl praat

‘Rapport’ het die afgelope week soveel as moontlik bewerings wat in die opspraakwekkende boek ‘Die seuns van Bird Island’ gemaak word, probeer verifieer. Dit is wat Dawie Boonzaaier en Erika Gibson kon vasstel:

Die seuns op die eiland

Die sleutelbewering in die boek is dat Dave Allen, John Wiley, Magnus Malan en nog ’n kabinetsminister, wat nie geïdentifiseer word nie, blykbaar by verskeie geleenthede jong seuns op die eiland seksueel misbruik het. Rapport het met verskeie bronne kontak gemaak wat bevestig dat al die mense by geleentheid op die eiland was – sommige meer as een keer en soms almal saam.

  * Barend du Plessis (78), destydse minister van finansies, sê hy was in 1986 saam met Malan “en etlike ander gaste” op uitnodiging van Wiley op Birdeiland. Malan was toe minister van verdediging en Wiley was minister van omgewingsake. Allen het ’n konsessie vir ghwano op Birdeiland bedryf, vandaar sy vriendskap met Wiley.

Du Plessis sê sy besoek was vir die opening van ’n nuwe kaai vir die laai van ghwano. Hy sê dit was sy enigste besoek aan die eiland. (Lees die volledige onderhoud van Hanlie Retief met Du Plessis hier).

  * Vriende en personeel van Magnus Malan het bevestig dat die voormalige minister van verdediging meer as een keer op die eiland was. Hulle sê hy was, as ’n ywerige hengelaar, gefassineer deur die wêreldklas-visteelprojekte op die eiland. Hulle sê hy het dikwels met entoesiasme vertel van die baanbrekerswerk wat daar vermag is.

Cecile Scholtz van Pretoria, wat jare lank vir Malan se dagboek verantwoordelik was, sê sy onthou dat Barend du Plessis, John Wiley en Malan saam op die eiland was. “Wiley het graag mense soontoe gevat juis omdat hy baie trots was op die visnavorsingsprojekte.”

  * Hans Benecke, vennoot van Allen by Atlas Organic Fertilisers, sê Du Plessis was een keer op die eiland – vir die opening van die kaai.

  * Willie Maritz, wat tussen 1986 en 1988 as mariene bioloog by die Port Elizabeth-museum gewerk het, sê Du Plessis, Malan en Wiley was beslis saam op die eiland. Maritz sê hy het ’n navorsingsprojek op Birdeiland gehad wat beteken het dat hy elke sesde week vyf dae op die eiland deurgebring het. Hy het ook vir Du Plessis goed geken omdat hy saam met die Du Plessis-seuns op skool was.

Hy sê gedurende een van dié besoeke in 1986 het Du Plessis, Wiley, Malan en Benecke om ongeveer 10:00 op ’n Maandagoggend met ’n lugmaghelikopter op die eiland geland. Hy kan nie onthou dat daar ooit tydens dié geleentheid ’n kaai geopen is nie.

Wat hy wel onthou, is dat die groep die hele week saam op die eiland in dieselfde huis gebly het waartydens hulle “gekuier, visgevang en gebraai het”. Niks onbehoorlik het daardie week gebeur nie,” sê Maritz.

  * Twee onafhanklike bronne, een van Port Elizabeth en ’n ander van die Weskus, wat nie geïdentifiseer wou word nie, het aan Rapport gesê hulle was goed bevriend met Hannes du Preez, die destydse vuurtoringopsigter op Birdeiland (Du Preez is later na Dasseneiland aan die Weskus verplaas). Albei het vertel dat “Oom Hannes” graag, veral nadat hy ’n paar doppe ingehad het, vir hulle vertel het dat hy eendag vir Allen en Wiley op Birdeiland met jong seuns betrap het.

  * Koos van Deventer, ’n voormalige militêre polisieman wat later oorgeplaas is na Militêre Inligting (MI), was destyds een van Malan se lyfwagte.

Van Deventer sê hy was een van ’n klein groepie wat Malan gedurende sy termyn as minister byna konstant onder oë gehad het.

As ons op reise was, het Malan reg oorkant my geslaap. Hy is nie toegelaat om iewers heen te gaan sonder een van ons aan sy sy nie.

“En as omstandighede so was dat ons nie by hom was nie, was een van MI of die Nasionale Intelligensiediens nou betrokke by sy beveiliging.”

Volgens Van Deventer was Malan en Barend du Plessis goeie vriende omdat hulle baie belangstellings gedeel het.

“Ek weet nie van die Desember-besoek aan Birdeiland nie, maar gegewe die era sou dit ongehoord wees dat Malan sonder enige veiligheidsplan ’n paar dae op die eiland sou gaan sit het.”

Die ‘straatseun’ en die foto’s

In die boek verwys Minnie na ’n kollega, Gordon Lamastra, wat saam met hom diens gedoen het toe hulle ’n klopjag uitgevoer het op Allen se huis en pornografiese materiaal gevind het. Hy skryf Lamastra was ook in die polisiekantoor toe ’n “straatseun”, wat hy onder die skuilnaam “William Hart” identifiseer, ’n aantal mans op foto’s uitgewys het as die mense wat seksdade met hom gepleeg het by ’n huis aan die Tsitsikamma-kus.

Volgens Minnie het Hart Wiley, Allen en ’n derde minister, wat Minnie nie identifiseer nie, op die foto’s uitgewys. Minnie skryf dat hy “gekeer het” dat Hart vir Malan uitwys omdat hy glo wou voorkom dat hy later in ’n hof daarvan beskuldig sou word dat hy die kind opsetlik gelei het om sekere gesigte en name uit te wys.

  * Gordon Lamastra het die afgelope week aan Rapport gesê hy onthou die gebeure goed. Hy kan pertinent onthou dat die seun vir Wiley, Allen en Malan uitgewys het. Hy is egter “nie seker” of die derde, ongenoemde minister, ook deur die kind geïdentifiseer is nie.

Die klopjag

Minnie skryf dat van sy kollegas ’n klopjag uitgevoer het in ’n huis in Jeffreysbaai op soek na kinderpornografie. Die inwoner van die huis was ’n vrou, wat sy kollegas beskryf het as ’n “hoity-toity rich bitch”. Minnie skryf dat die vrou die polisielede gedreig het deur te sê dat sy haar vriend, ’n lid van die kabinet, sou bel hieroor.

  * Lamastra het teenoor Rapport die gebeure bevestig en gesê hy was teenwoordig by die klopjag. Hy sê dit is ook waar dat die vrou gedreig het dat sy hulle sal verkla by haar vriend, ’n kabinetsminister. Lamastra het die minister se naam teenoor Rapport herhaal, maar dit word weerhou op regsadvies.

  * Rapport het ook kontak gemaak met twee ander polisielede wat tydens die klopjag teenwoordig was. Een is nog steeds in die polisiediens. Albei wou nie kommentaar lewer nie.

Die redakteurs

Minnie en Steyn skryf dat joernaliste wat die feite en gerugte oor Wiley en Allen se selfmoord destyds wou ondersoek, deur hul redakteurs stilgemaak is. Hulle skryf onder meer dat druk op die redakteur van Rapport geplaas is om enige ondersoek te laat vaar.

  * Die Rapport-verslaggewer wat destyds breedvoerig oor die dood van Wiley geskryf het, was Martin Welz, deesdae redakteur van die ondersoekende nuustydskrif Noseweek.

Welz het die afgelope week aan Rapport gesê daar was nooit druk op hom om sy ondersoek te laat vaar nie.

“Ek het net nie genoegsame bewyse gehad om oor Malan en enige ander kabinetslede se betrokkenheid te skryf nie. Mens kon in elk geval nie daai dae waag om iets negatiefs oor Malan te skryf nie.”

Welz het destyds op die voorblad berig oor die vriendskap tussen Wiley en Allen en daar is uitvoerig berig oor die bespiegeling oor sy dood, onder meer die feit dat ’n moontlike rede vir sy dood was dat Wiley ongelukkig was daaroor dat die NP hom nie weer wou nomineer as hul kandidaat vir Simonstad in die komende verkiesing nie.

Welz sê nou wat die berig van destyds nie vermeld het nie is dat ’n NP-bron aan hom vertel het dat Wiley die aand voor sy dood vir Botha gebel het en by hom gepleit het dat hy toegelaat word om as kandidaat in die verkiesing te staan en dat hy weer ’n kabinetspos moet kry. Botha was egter onverbiddelik en het blykbaar aan Wiley gesê dat hy oor inligting beskik dat Wiley die Nasionale Party erge skade sou berokken, sou dit uitlek.

  * Welz – asook ander senior joernaliste uit die tyd – het aan Rapport gesê daar was destyds talle gerugte oor Allen en ’n paar senior kabinetsministers, onder wie Wiley en Malan, se onheilige bedrywighede in Port Elizabeth.

Welz sê Allen se broer, Geoff, self ’n joernalis, was destyds een van sy bronne. (Lees die artikel deur Jani Allan in Stemme).

Hy het in die loop van sy ondersoek onder meer gepraat met die opsigter van ’n vuurtoring aan die kus wat aan hom vertel het dat bruin seuns eendag aan sy deur kom klop het vir hulp.

“Die seuns het glo gevra dat die op sigter vir Wiley en Malan via sy radio op Birdeiland roep, omdat hulle omkoop geld soek,” sê Welz.

Welz sê hy het tydens sy beriggewing oor Wiley en Allen se selfmoord ook vir Allen se vennoot, Benecke, gepols oor die bewerings. Benecke was egter van mening dat daar nie kans was vir onheilighede op die eiland nie omdat die huis op Birdeiland nie eens deure vir privaatheid gehad het nie.

Die ‘beseerde seun’

Minnie en Steyn maak in hul boek groot gewag van ’n seun met ernstige inwendige beserings wat per helikopter na ’n plaaslike hospitaal gebring is vir behandeling. Minnie skryf dat hy met ’n verpleegster en ’n suster gepraat het wat dit aan hom bevestig het. Hy identifiseer hulle nie.

  * Rapport het die afgelope week die dokter wat na bewering op die seun geopereer het, opgespoor. Sy naam word op regsadvies weerhou. Hy is deesdae ’n wynboer en praktiseer nie meer nie.

Hy wou nie bevestig of ontken dat hy betrokke was by so ’n operasie nie en sê dat die dokter-pasiënt-vertroulikheid geskend sal word indien hy enige navrae beantwoord.

  * ’n Senior lugmagoffisier, wat ten tyde van die beweerde gebeure in Port Elizabeth gestasioneer was, sê daar was in die jare wat hy in die eskader was nooit ’n enkele noodgeval waar ’n burgerlike pasiënt op die eiland opgepik is nie – nog minder een wat op verdagte wyse geskiet is. Hy sê daar was wel ander burgerlike helikopters in die Port Elizabeth-gebied wat sulke noodgevalle kon hanteer. “In ’n militêre konteks sou só ’n vlug deur ’n string mense goedgekeur moes word.”

Die rondvliegery

Minnie en Steyn skryf dat hulle “ ’n paar” mense opgespoor het wat die vlugreëlings getref het vir kabinetslede as hulle Birdeiland besoek. Hulle haal dan ’n ongeïdentifiseerde lugmagvlieënier aan wat bevestig dat 16 Eskader “vroeg in 1986” getaak is om drie kabinetslede, onder wie Wiley en Malan, by die lughawe op Port Elizabeth op te laai en na die lughawe te neem. Volgens die vlieënier was sy bevelvoerder destyds baie ongelukkig hieroor, omdat die opdrag gespesifiseer het dat die ministers, teenstrydig met prosedures, naby die kommersiële SAL-vliegtuig moes land om die groep op te pik.

  * ’n Senior lugmagoffisier, wat destyds nou betrokke was met die reëlings vir sulke vlugte, het dié feite, asook die feit dat daar in lugmagkringe ongelukkigheid was oor die feit dat ’n militêre helikopter ten aanskoue van die publiek langs ’n kommersiële vliegtuig moes parkeer, bevestig.

“Ons was bang dat ’n lid van die publiek foto’s sou neem van ministers wat só in ’n lugmaghelikopter opgelaai word en dat dit uit verband geruk kon word,” vertel die offisier wat reeds jare lank met pensioen is.

Hy sê die besware is deur Malan se kantoor van die tafel afgevee. Hulle is daarna op die eiland afgelaai en drie dae later weer gaan oplaai. Met die terugkomslag het die ministers by die lugmagbasis gaan stort en skoon aantrek voordat hulle weer op ’n SAL-vlug vertrek het. Hy sê hy het nie met enige van die skrywers van die boek kontak gehad nie en is dus nie die bron van hul inligting nie.

  * Scholtz, wat die meeste van Malan se reisreëlings getref het, sê sy kan nie onthou dat sy – buiten buitelandse vlugte – ooit vir Malan plek bespreek het op ’n SAL-vlug na Port Elizabeth nie.

Die staatsaanklaer

Minnie beweer in die boek dat John Scott, destyds glo die senior staatsaanklaer in Port Elizabeth, hom uit die bloute gekontak het oor sy dossier teen Allen. Volgens Minnie was Scott verontwaardig oor waarom Minnie hom nie eerste genader het met die ondersoek nie, in plaas daarvan om dit direk by die hof in te dien. Nadat Scott die dossier bestudeer het, het hy glo in “vet rooi letters” op die dossier beveel: “Enige ondersoek in hierdie saak moet onmiddellik gestaak word.” Geteken: “John Scott”.

  * Scott het die afgelope week taamlik vies gereageer toe Rapport hom met dié bewerings konfronteer.

Hy sê hy gaan nie kommentaar lewer op iets wat reeds 30 jaar gelede gebeur het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.