Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bitterheid oor huis langs vlei

Toe Sandra Prinsloo in 1992 ’n ooreenkoms aangegaan het om ’n bouvallige rietdakhuisie op ’n plaas aan die Weskus te huur, was die plek beswaarlik R1 000 werd. Maar saam met ’n gesiene binnenshuisversierder het sy dit omskep in ’n pragtige plek wat al in ’n leefstyl-tydskrif gepryk het en nou meer as R1 miljoen werd is.

Sandra Prinsloo

Maar dié huisie, wat Prinsloo skynbaar as ’n wegbreekplekkie gebruik, het ’n lang geskiedenis van onmin tussen die aktrise en die boedel van Johan Coetzee, die plaas se eertydse eienaar.

Prinsloo en Coetzee het in 1992 ’n huurooreenkoms gesluit, waarvolgens sy die “langhuisie teen die water saam met die ruïne” vir tien jaar teen R500 per maand sou huur.

Die huisie lê vlak langs die riete van die Verlorenvlei in Elandsbaai.

Coetzee is in 2004 dood en tien jaar later het die eksekuteur van sy boedel Prinsloo gedagvaar vir agterstallige huur van R33 000. Hulle het toe geskik en sy het daarna R1 000 per maand huur betaal.

Die gerestoureerde lang huisie. Foto’s: House & Leisure

In 2016 het sy aangebied om die huisie te koop vir R300 000, maar haar aanbod is van die hand gewys.

Prinsloo het toe verlede jaar ’n eis van R1,1 miljoen teen die eksekuteur van Coetzee se boedel, Jan Nel, ingestel. Sy het in hofstukke aangevoer die huisie is nou R1,1 miljoen werd danksy haar verbeterings.

Nel se verweer was dat sy nooit ’n eis teen die boedel ingestel het nie. Betalings uit die boedel is al in 2006 aan die erfgename en begunstigdes gedoen en afgehandel.

Hy het ook ontken dat Prinsloo ooit eienaarskap van die verbeterings sou hê of dat die boedel kwansuis “verryk” is.

In November het Prinsloo haar eis onttrek sonder om redes vir haar besluit te verstrek.

Die binnekant.

Nou blyk dit die trustees wat die plaas bestuur, het reeds in Oktober verlede jaar haar huurkontrak gekanselleer en haar gevra om die huisie teen einde Januarie te verlaat.

Sy het geweier en hulle het die afgelope week aansoek gedoen vir ’n uitsettingsbevel teen haar.

Die aansoek is Woensdag uitgestel tot 15 Augustus om Prinsloo kans te gee om daarop te antwoord.

Heletjie Slabber, ’n trusteelid, sê in hofstukke Coetzee se 81-jarige weduwee is nie meer in staat om haar eie sake te bestuur nie. Sy kry finansieel swaar en Prinsloo gebruik die eiendom net vir vakansieverblyf.

Prinsloo tree tans by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn op en het Vrydag aan Rapport gesê sy gaan nie nou kommentaar lewer nie, behalwe dat sy ’n lid is van die Vriende van Verlorenvlei.

Dié groep beywer hom vir die bewaring van die vlei, wat tans onder druk is weens abnormale watertoevloei.

Meer oor:  Sandra Prinsloo  |  Weskus  |  Boedel  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.