Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Black tax’: Só het ANC-man uitgestyg

Die seun van twee plaaswerkers in Mpumalanga het ná jare se bloedsweet in April sy tweede meestersgraad ontvang.

Ronald Lamola (34), die seun van twee plaaswerkers, het sy tweede meestersgraad, in ekstraktiewe reg hierdie keer, in April aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Ronald Lamola (34) was adjunkpresident van die ANC-jeugliga toe Julius Malema nog president was, ’n voormalige woordvoerder van adj.pres. David Mabuza toe dié nog premier van Mpumalanga was, en is vandag ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee.

Hy het hierdie week die nuus gehaal toe hy op ’n grondberaad by Unisa deur lede van die EFF en Black First Land First (BLF) verbied is om sy toespraak oor grondhervorming te voltooi.

Rapport het Lamola in Midrand ontmoet, waar hy vertel het hy sou nêrens gekom het as dit nie was vir die sogenaamde “black tax” nie – naamlik werkende swart mense wat die verantwoordelikheid op hulle neem om soms vir ’n groot aantal werklose familielede te sorg. In sy geval het sy suster, Con­stance Khoza (49), hom indertyd gehelp om universiteit toe te kon gaan.

Ronald Lamola (34), kind van twee plaaswerkers, dien in die ANC se NUK en het twee meestersgrade. Foto: Willem de Lange

“Ek het op die plaas Teenbosch by Komatipoort grootgeword. My ouers het nie geld gehad nie, maar daardie jare van onskuld was tog heerlik, miskien net omdat ek nie van beter geweet het nie,” sê Lamola. Sy ouers, Philemon (76) en Ernie (62), woon steeds in Mpumalanga.

“My suster het destyds vir die regering in Mpumalanga gewerk en het uit haar salaris betaal vir my om my LLB aan die Universiteit van Venda te behaal.”

Nadat hy graad gevang het, het Constance hom gehelp om vir NSFAS-beurse aansoek te doen.

Sy eerste meestersgraad, ’n LLM in korporatiewe reg, het hy in 2014 aan die Universiteit van Pretoria behaal, maar dit was nie genoeg nie. In April het hy nogmaals ’n M-graad gekry, weer by Tukkies en ook in die regte. Sy fokus was op die ekstraktiewe bedrywe soos olie, gas en mynbou.

“Ek het my politieke bewussyn as plaaskind ontwikkel terwyl ek in Mpumalanga se stofstraatjies gespeel het. Ons mag in die laat 80’s nie met die wit kinders op die omliggende plase gespeel het nie. Net by sportbyeenkomste kon ons meng. En dit het my gepla.”

Vandag sukkel plattelandse kinders steeds. “Ek wens ek kon vir elkeen van hulle sê énigiets is doenbaar. Jy kan uit ’n moeilike agtergrond en nederige omstandighede uitstyg en iemand word.”

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.