Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Blinde atleet en gidshond toegang tot eetplek geweier
Louzanne Coetzee en haar gidshond, Oakley. Foto: Verskaf

Die Paralimpiese atleet Louzanne Coetzee en haar gidshond, Oakley, is Woensdagoggend toegang tot ’n bekende restaurant in Bloemfontein geweier.

Al wat sy ná die onaangename ervaring vra, is bewustheid en opvoeding oor mense met gestremdhede en hul regte.

Coetzee, wat Suid-Afrika in 2016 op die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro verteenwoordig het en die wêreldrekordhouer in die 5 000 m is, wou Woensdagoggend saam met twee vriendinne by The LBOW Room-restaurant ontbyt eet. Omdat dit koel buite was, wou hulle in die restaurant sit.

’n Kelner by die ingang wou haar nie toelaat om Oakley saam in te bring nie. Hy het hulle aangeraai om by ’n tafel buite sit.

Coetzee se vriendinne het gevra of hy dit met die bestuurder kan bespreek. Hy het toe gaan praat met ’n man wat by die kroeg gestaan het en dit was duidelik dat dié ook geweier het.

Toe Coetzee vra of sy self met die bestuurder kan praat, het die kelner geantwoord dat sy dan gesien het hy het reeds met hom gepraat.

Lucy Kapp, Coetzee se vriendin, het later op Facebook geskryf die kelner het weggestap toe Coetzee probeer verduidelik dat sy nie kan sien nie en van haar gidshond afhanklik is.
Oakley, die gidshond wat nie in ’n restaurant toegelaat is nie. Foto: Jeandre Badenhorst

“Selfs met Oakley, wat aan haar harnas by my was, dink ek nie die kelner het besef ek is blind nie.”

Lucy Kapp, Coetzee se vriendin, het later op Facebook geskryf die kelner het weggestap toe Coetzee probeer verduidelik dat sy nie kan sien nie en van haar gidshond afhanklik is.

Louzanne Coetzee Foto: Jeandre Badenhorst

Dit het Kapp veral ontstel omdat Coetzee “sigbaar blind is, veral as sy aan Oakley en haar harnas geheg is”.

Die bestuurder het daarna met hulle kom praat en weer ’n tafel buite aangebied.

Die vroue het weer gesê dat hulle weens die koue eerder binne wou sit. Hy het toe geantwoord dat hulle dit vir hom moeilik maak en hy wag “vir goeters om deur te kom”.

Coetzee is nie seker wat hy daarmee bedoel het nie.

Vir Kapp was dié verskoning flou.

“Op watter ‘goeters’ moet ’n mens wag voordat jy ’n siggestremde persoon en haar oë (Oakley) in ’n restaurant toelaat?”

Kapp sê toe hulle die bestuurder inlig dat hulle dan eerder na ’n ander restaurant sal gaan, het hy hulle met ’n bot “oukei, reg” geantwoord.

Coetzee sê ondanks die ervaring is sy “oukei”.

“Die eienaar van die restaurant het my vanmiddag gebel en om verskoning gevra. Hy het ons genooi om saam met Oakley die restaurant te besoek, maar ek wil na dese nie gaan nie.”

Dit is mosterd ná die maal, sê sy.

“Die bestuurder kon die eienaar gebel en só die hele onaangenaamheid vermy het.”

Sy wil graag iets positiefs uit die ervaring sien kom en doen ’n beroep op ondernemings om hul personeel beter oor mense met gestremdhede op te voed, veral in die restaurantbedryf, waar sulke misverstande gereeld voorkom.

• Kragtens Wet 54 (die Voedselwet) van 1972, regulasie R962 (10)(i), moet ’n gidshond op persele toegelaat word.

Meer oor:  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.