Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Blitspatrollie begelei glo polisie-hoë kerk toe
Genl.maj. Mpumelelo Manci (in die pak klere) by die verkeerskegels voor die kerk waaraan hy in Maitland behoort. Foto: Verskaf

’n Generaal-majoor in die polisie gebruik glo lede van die blitspatrollie in Kaapstad om hom, sy familie en senior kerklui van die charismatiese kerk in Maitland, Kaapstad, waaraan hy behoort, na en van dié kerk te begelei.

Kry genl.maj. Mpumelelo Manci, Wes-Kaapse hoof van sigbare polisiëring en tans waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof, nie dié lede in hande nie, word hul bevelvoerder, lt.kol. Pierre Basson, glo summier ontbied om sy lede se “werk” te doen.

Die werk sluit volgens polisiebronne in om Manci en die kerklui, onder andere die hoof van die kerk, van en na die kerk te begelei en ook sommer om verkeer te reguleer.

Middel 2018 het Colin Arendse, ’n gemeenskapsaktivis, die beweerde vergrype van Manci onder die aandag van Bheki Cele, nasionale polisieminister, gebring.

Die Wes-Kaapse polisiehoof, lt.genl. Khombinkosi Jula, het toe vir genl.maj. Oswald Reddy, groepspolisiehoof van George, aangestel om die beweringe teen Manci te ondersoek.

Bronne het gesê nadat Reddy se ondersoek aan die lig gekom het, het die opdragte van Manci aan blitspatrollielede toe vir eers gestop.

Vroeg vanjaar het Manci glo egter weer begin om blitspatrollielede opdragte te gee om private mense te begelei.

In Mei het Manci glo beveel dat blitspatrolliebeamptes sakemanne gedurende ’n private besoek aan twee townships op die Kaapse Vlakte begelei waar hulle glo vir die sakemanne moes wag totdat hulle klaar was en weer na hul onderneming moes begelei.

Benewens die ondersoek is Reddy in 2017 opdrag gegee om nog twee ander generaals-majoor in die Wes-Kaap te ondersoek.

In Julie 2017 is Reddy aangestel om genl.maj. Patrick Mbotho te ondersoek nadat hy (Mbotho) ’n pornografiese videogreep op ’n WhatsApp-groep na speurders wat aan hom rapporteer en ander beamptes gestuur het. Die video het ’n seksdaad tussen ’n man en ’n vrou uitgebeeld.

Mbotho was toe die Wes-Kaapse speurhoof.

Reddy is glo in 2017 ook aangestel om ’n afgetrede generaal-majoor in die Wes-Kaapse polisie te ondersoek nadat ’n vrouekonstabel by die Mitchells Plain-polisiekantoor ’n klag van viktimisasie teen die generaal-majoor ingedien het.

Die ondersoeke is volgens polisiebronne onder die mat gevee. “Daar het niks van die ondersoeke gekom nie, omdat sowel die afgetrede generaal-majoor as Mbotho, Jula se bondgenote is,” het die bronne gesê.

Manci het verlede week ook vir Reddy aangestel om die ondersoek te lei na die skietvoorval op 12 Junie toe vyf lede van die bende-eenheid van die Wes-Kaap in ’n aanval in die Sweet Home Farm- informele nedersetting by Samora Machel gewond is en ’n sesde lid sy knie erg beseer het.

Konstt. Freddie Florence, Andries Diniso, Byron Diedericks en Edwell le Grange asook sers. Frederick (Freddy) Lodewyk, is gewond.

Reddy se ondersoek kom nadat die hoof van die bende-eenheid, genl.maj. André Lincoln, ’n verslag aan Jula geskryf het en gevra het dat vier beamptes, ’n brigadier en drie kolonels, summier uit die bende-eenheid verwyder word.

Jula het die vier beamptes glo ’n maand of twee gelede sonder Lincoln se insae na die bende-eenheid ontplooi.

Lincoln skryf dat daar ’n vertrouensbreuk tussen hom en die vier beamptes is.

Hy lig Jula verder in dat hy begin het met ’n dissiplinêre ondersoek teen die beamptes wie se name hy in die verslag noem.

Die opsporingsoperasie is glo op Dinsdag 11 Junie beplan en minder as 24 uur later uitgevoer.

Dié inligting het die polisie se topbestuur in die provinsie glo eers ná die aanval op ’n ontlontingsvergadering gekry.

Die twee beamptes (kolonels) wat die operasie beplan het, was die oggend van 12 Junie omstreeks 02:30 ook nie op die toneel of deel van die operasie nie.

“ ’n Sersant is in bevel van die operasie geplaas,” skryf Lincoln.

Daar is glo ook geen operasionele plan opgestel nie en nie een van die gespesialiseerde eenhede, soos die nasionale intervensie-eenheid of die taktiese reaksiemag, is glo betrek nie.

Lincoln voer aan dat die verdagtes wat in die opsporingsoperasie gesoek is, nie eens deur die bende-eenheid ondersoek of gesoek word nie.

“Die dossiere waarvoor die verdagtes gesoek word, is nie bendeverwante dossiere wat binne die mandaat van die bende-eenheid val nie. Hulpbronne van die bende-eenheid is gebruik sonder dat die bevelvoerder, genl.maj. André Lincoln, gekonsulteer is of sy goedkeuring gekry is.

“Die voorval het ’n totale vertrouensbreuk in die verhouding tussen genl.maj. Lincoln en die beamptes veroorsaak.

“As gevolg daarvan word u dringende ingryping versoek om die beamptes uit die eenheid te verwyder,” skryf Lincoln in sy verslag.

Navrae oor die beweringe teen Manci en oor die ondersoeke wat Reddy moes lei, is na Reddy, genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, Cele en Jula se kantore gestuur.

Reddy het navrae na die provinsiale kantore verwys. Sitole en Cele het nie op navrae gereageer nie.

’n Polisiewoordvoerder, lt.kol. Andrè Traut, het in antwoord op die navrae oor die ondersoeke teen Manci, Mbotho en die afgetrede generaal-majoor gesê die uitkoms van interne ondersoeke deur die polisie word as vertroulik tussen die werkgewer en die werknemer beskou.

Hy het ook bevestig dat Reddy die ondersoek na gebeure wat tot die aanval op die bende-eenheidlede gelei het, ondersoek.

ondersoek, polisie, weskaap
Meer oor:  Genl.Maj. Mpumelelo Manci  |  Wes-Kaap  |  Ondersoek  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.