Die vlieënier en sy vriend wat daarvan beskuldig word dat hulle onwettig met ’n klein vliegtuigie op die O.R. Tambo-lughawe geland het om ’n haastige jagter daar af te laai, sê dit was alles weens verwarring met die beheertoring.

Conrad Botha in Alex Salley se vliegtuig. Foto: www.pilotspost.com
’n Video waarop Conrad Botha en Alec Salley, twee bekendes in kunsvliegkringe, twee weke gelede doodluiters met ’n viersitplek-RV-10-vliegtuig tussen groot passasierstralers op die aanloopbaan deurry om ’n passasier te gaan aflaai, het onlangs opslae gemaak. Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek sedertdien die voorval.
Botha het die afgelope week vertel hy het as ’n guns vir ’n vriend ’n Amerikaanse gas van Bloemfontein af O.R. Tambo toe gebring nadat haar vlug soontoe sonder kennisgewing gekanselleer is. Salley was die vlieënier.
Hy sê hy het vlugplanne ingedien en haar bagasie, ook ’n jaggeweer met al die nodige permitte, ingelaai met volle klaring van doeanebeamptes op die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein.
Die eerste teken van probleme was toe hy op O.R. Tambo aangesê is om uit te wyk toe hy wil land. Dieselfde lugruimbeheerbeampte het toe later per radio laat weet hulle kan maar op dieselfde aanloopbaan kom land, sê Botha.
Maar toe neem ’n ander beheerder oor en sê: “links, links!”
“Ons was oorgelaat aan waar die beheerder ons heen beduie het. Ons het nie geweet watter vliegtuie bo of agter ons was nie,” sê Botha. Daar was nie links of regs ’n veilige uitweg nie en hulle het toe maar aangekruie op die verbindingspad tussen die aanloopbaan en die laaiblad.
“Ons is na ’n parkeerplek toe beduie en die passasier is per bussie geneem om haar vlug te gaan haal. Daarna het ons weer vir klaring gevra om op te styg en ons is terug Bloemfontein toe sonder probleme.”
Was dit nie vir die video wat toe op sosiale media beland het nie, was dit waarskynlik die einde van die stories. Maar toe raak almal in beroering en sommige kommentators beweer selfs die lugmag sou die “indringervliegtuig” kon neerskiet.
Die BLO het in ’n verklaring gesê vlieëniers wat net ’n basiese private vlieglisensie het, mag nie op ’n kommersiële lughawe land nie. “Die BLO beskou die insident as bisar, kommerwekkend en erg gevaarlik,” het Poppy Khoza, direkteur van die BLO, in die verklaring gesê.
Botha en Salley verskyn Dinsdag voor ’n ondersoekpaneel van die BLO.