Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
BLO-vliegramp naby George lyk ‘soos Hansie s’n’

Die vliegongeluk waarin drie personeellede van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) Donderdag naby George dood is, toon treffende ooreenkomste met die vliegramp wat op 1 Junie 2002 die lewe geëis het van die oudkrieketkaptein Hansie Cronjé en twee vlieëniers.

Maar as die BLO regtig wil uitvind wat Donderdag skeefgeloop het, moet dié organisasie se eie ondersoekeenheid nie toegelaat word om self die ondersoek na die ramp te doen nie, het lugvaartkenners gister gewaarsku.

Die BLO het aangekondig sy eie lugvaartondersoekers is gister gestuur om bewysstukke op die toneel te versamel.

“Dit is heeltemal onvanpas vir die BLO om homself te ondersoek,” sê Karl Jenson, ’n voormalige vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Kapt. Thabiso Tolo (49), Tebogo Lekalakala (33), eerste offisier, en Gugu Mguni (36), ’n vluginspekteur, is dood toe die BLO se Cessna Citation in ’n bergagtige gebied naby die Robinsonpas noord van Mosselbaai neergestort het.

Dit is heeltemal onvanpas dat die BLO homself ondersoek.

Die vliegtuig, wat gebruik word vir lugvaartinspeksies, het Donderdag verdwyn nadat dit om 10:40 van die George-lughawe opgestyg het om die navigasiestelsels van die lughawe na te gaan. Tien minute nadat die vliegtuig opgestyg het, het die lugbeheertoring kontak daarmee verloor.

Die vliegtuig, wat al 20 jaar deur die BLO as ’n kalibrasievliegtuig gebruik word, is in November geskut nadat rook by die kajuit uitgeborrel het net voordat dit vanaf die Lanseria-lughawe opgestyg het. Die Sunday Times het in Desember berig die vliegtuig het op 8 November op die aanloopbaan tot stilstand gekom en dat albei die agterste bande gebars het weens die noodremme se hitte.

Jenson sê daar is onder meer vrae oor of die vliegtuig die streng prosedures by die George- lughawe gevolg het, wat enkele kilometer van die Outeniekwa-berge geleë is.

Hy sê dit lyk of die straler moontlik in swak weer opgestyg en op ’n lae hoogte gevlieg het om kalibrasie te kan doen.

“Dit is veilig as jy daar op ’n hoogte van 8 000 voet vlieg, maar die Cessna het maar op 3 990 voet gevlieg,” sê Jenson.

Kalibrasie kan slegs in perfekte weersomstandighede gedoen word, omdat die vlieënier bewus moet wees van die terrein waaroor hy vlieg. As gevolg van wolke is die kans goed dat jy nie die berge kan sien nie, sê hy.

Volgens hom lyk dit of die ongeluk soortgelyk is aan die een waarin Hansie Cronjé destyds dood is.

Dit blyk die vlieënier het soos in die geval van Cronjé se ongeluk nie die vlugplan gevolg nie en regs na die berge gedraai pleks van links na die see toe, sê hy.

Jenson sê slegs onafhanklike ondersoekers sal kan verseker dat daar geen toesmeerdery in die ondersoek na die noodlottige ongeluk is nie, aangesien die BLO se reputasie op die spel is.

’n Lugvaartkenner wat anoniem wil bly, stem saam. “Die BLO is in hierdie geval sowel die operateur van die vliegtuig as die owerheid wat verantwoordelik is vir die skepping en die handhawing van die regulasies oor burgerlike lugvaart. Dit is daarbenewens ook die instansie wat die ongeluk ondersoek. Dit is ’n baie ernstige konflik van belange.”

Die BLO sê sy ondersoekeenheid is heeltemal onafhanklik.

“Die ondersoekeenheid word by ons kantore gehuisves, maar ons het geen seggenskap oor hulle nie. Hulle tree heeltemal onafhanklik op en doen slegs verslag aan die departement van vervoer,” sê Poppy Khoza, uitvoerende hoof van die BLO.

Die witskrif oor die nasionale burgerlugvaartbeleid wat in 2017 in die Staatskoerant gepubliseer is, is egter krities oor die verhouding tussen die BLO en die ondersoekeenheid. “Dit is nie gepas dat die funksie om vliegtuigongelukke te ondersoek deur die BLO namens die departement van vervoer gedoen word nie aangesien lugvaartondersoekers die BLO kan impliseer en dit ’n botsing van belange kan veroorsaak,” lui die witskrif.

Luidens die witskrif het die minister van vervoer ’n bevel uitgereik om die onafhanklikheid van die ondersoekeenheid te verseker, maar ’n permanente oplossing is nog soek. ’n Wysiging van die wet op burgerlike lugvaart is glo nie buite die kwessie nie.

Khoza sê die BLO kan nie verder kommentaar lewer oor die oorsaak van die ongeluk nie.

“Ons vra mense om nie te bespiegel nie en die ondersoekspan toe te laat om hul werk te doen.”

Sy sê gereelde instandhoudingswerk is aan die vliegtuig gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.