Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bloem-onluste: ‘Alles stort in duie’

Banke en supermarkte staan gesluit, vars brood en groente raak al hoe skaarser omdat aflewerings nie gedoen kan word nie, hospitale steier sonder personeellede, twee waterpype bars en Mangaung se personeellede is onverkrygbaar.

Dit is hoe Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro, die omstandighede Dinsdag, op dag 2 van die onluste in Bloemfontein, ervaar.

Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro. Foto: Argief

“Soos wat ek verstaan, het van die skole ook al hul buitemuurse aktiwiteite in Bloemfontein afgestel om ouers en kinders veilig te hou.

“Ek wou bank toe gaan, maar dit was gesluit. Ek was by ’n bekende kettingwinkelgroep, wat ook gesluit was, en toe ek by ’n ander kettingwinkel in Bloemfontein kom wat wel oop was, was die vars produkte op die rakke uiters beperk. Die winkel se bakkery was gesluit, met baie beperkte vleisprodukte in yskaste.

“Dit is waarskynlik omdat aflewerings nie gedoen kan word nie omdat paaie gesluit is en omdat daar vrese is dat vragmotors aan die brand gesteek kan word.”

Botes sê hy weet van twee waterpype wat Dinsdag gebars het – een in Bainsvlei en een in Unielaan – maar talle oproepe na die metro het nie daarin geslaag om iemand op te spoor wat herstelwerk kan kom doen nie.

Die chaos in die winkel van Masfin Dasleny, ’n buitelander wat in Batho, buite Bloemfontein, sake doen. Foto: Mlungisi Louw

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê die onluste raak die skole baie negatief. Alle skole in Bloemfontein se townships is gesluit. En dit te midde daarvan dat skole vanjaar baie laat geopen is weens die Covid-19-pandemie.

Hy sê daar is onderwysers wat in townships woon en in skole in die stad skoolhou wat weens intimidasie nie werk toe kan gaan nie. Dit geld ook leerlinge wat in townships woon en in stadskole skoolgaan.

“Ons het onderwysers wat in Thaba Nchu, Botshabelo, Wepener, Tweespruit en so meer skoolhou wat in Bloemfontein bly, wat nie bedags daarheen kan ry nie weens paaie wat gesluit is en intimidasie.”

Ndaba sê die onluste het ’n reuse-uitwerking op die Vrystaatse onderwysdepartement se programme.

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement.

Barnard Mononyana, Cope-raadslid van Mangaung wat in Grassland bly, sê die onluste in Bloemfontein raak inwoners uiters nadelig. Hulle kan nie werk toe gaan nie omdat daar nie openbare vervoer beskikbaar is nie.

“Die klein winkeltjies wat ons in die omgewing het, is oornag geplunder. Daar is net een oor en ek is nou besig om sy eienaar in my bakkie na veiligheid te bring.

“Die hele gemeenskap hier is van dié winkeltjies afhanklik vir paraffien, krag en lugtyd vir selfone.

“Hoewel ek simpatiseer met die mense wat die onluste gereël het, is dit vir ons baie moeilik om met ons daaglikse lewe voort te gaan omdat alle toegangspaaie na Bloemfontein gesluit is.”

Die oproerigheid spruit uit ontevredenheid met die metro se werkskeppingsprogramme omdat kontrakte en tenders aan mense van buite die stad toegeken word.

“Mense wat voertuie in ons gebied besit, is bang om daarmee te ry omdat voertuie Maandag beskadig is en daar selfs van die voertuie aan die brand gesteek is.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.