Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bloem se hoftolk is 17 tale magtig
Spinkie Msimang kan in 17 tale tolk. Sy het die afgelope maand in die verhoor van ’n renosterstroper op Virginia getolk.Foto: Alet van der Walt

Spinkie Msimang (65) moet mooi dink om al 17 tale wat sy magtig is op te noem.

“Ek het in Mamelodi in Pretoria grootgeword en daar is altyd baie verskillende tale gepraat,” sê sy.

Teen die tyd dat sy haar laerskoolloopbaan voltooi het, kon sy vyf van Suid-Afrika se elf amptelike landstale praat, en teen matriek kon sy tien praat.

Msimang, wie se moedertaal eintlik Zoeloe is, sê sy kon ná matriek nog net nie Venda praat nie, maar het dié taal ook later aangeleer.

Die 1980’s was onstabiele tye in Suid-Afrika en sy het as banneling na Mosambiek uitgewyk waar sy van 1982 tot 1987 skoolgehou het.

Kort voor lank het sy die een ná die ander Mosambiekse taal ook onder die knie gekry en geleer om Portugees, Sjangaan, Ronga, Chopi, Sjona en Zimbele te praat.

Daar word 43 tale in Mosambiek gepraat.

Zimbele is die Ndebele-taal wat mense in Zimbabwe praat, sê sy.

“Dit word so genoem omdat dit verskil van Ndebele wat in Suid-Afrika gepraat word.”

Ons praat in die huis sommer die eerste taal wat in ons kop kom.

Msimang se seun, Velelile Maphalala (45), is saam met haar na Mosambiek en het as seun ook van dié land se tale geleer praat.

Velelile kan in 14 tale tolk en werk ook as ’n hoftolk in die Vrystaat.

Msimang sê sy het later na Suid-Afrika teruggekeer waar sy as klerk by ’n maatskappy se ontvangsafdeling gewerk het. “Omdat ek so baie tale kon praat, het dit my baie gehelp om met die publiek te kon werk,” sê sy.

Die hof was vir haar baie interessant en sy het dikwels hofsake bygewoon. Op ’n dag het sy vir ’n landdros vertel hoeveel tale sy magtig is. Hy het gereël dat sy in 1992 as tolk by die hof in Johannesburg begin werk.

Sy sê sy het nie altyd besef dat sy eintlik 17 tale magtig is nie en moes gaan tel.

Msimang sê omdat sy van die skaars Mosambiekse tale kon praat, moes sy landwyd reis om hofsake as tolk by te woon en sy het later ’n pos in Bloemfontein aanvaar.

“Ek het verlief geraak op die Vrystaat en bly in Dan Pienaar in Bloemfontein.”

Msimang, Velelile, en sy seun, Bayanda, bly in een huis.

“Ons praat in die huis sommer die eerste taal wat in ons kop kom,” sê sy.

Die agtjarige Bayanda het beslis sy pa en ouma se taalaanleg geërf en is reeds vyf tale magtig.

Meer oor:  Hoftolk  |  Spinkie Msimang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.