Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bloem se nagtegaal sing Griekeland, wêreld aan brand

’n Operasangeres van Bloemfontein wat nou in Griekeland woon, het onlangs die beoordelaars van The Voice of Greece omtrent in vervoering gehad.

Louise du Toit en Christo Koulouridis, haar musikantman, het in Athene ontmoet en in 1997 saam met Hermine, hul sesjarige dogter, na Corfu verhuis. Foto: Verskaf

Louise du Toit het Vrydag die sesde reeks van dié gewilde talentprogram met ’n blinde oudisie ingelui, waar die beoordelaars met hul rug op haar gedraai na haar luister.

Du Toit, ’n oudleerling van die Hoërskool Jim Fouché wat haar musiekloopbaan by die destydse Streeksraad van die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (Sukovs) begin het, het Puccini se “Nessun Dorma” gesing.

Die beoordelaars was duidelik diep geraak en het een vir een al singend omgedraai om haar in die oë te kyk.

Een van die beoordelaars staan selfs op hom haar ’n drukkie te gee nadat sy al hul vrae vlot in Grieks beantwoord het.

Die episode is Vrydag in Griekeland uitgesaai en Du Toit se uitvoering kan nou op YouTube gesien word.

Du Toit het in ’n onderhoud vanuit Griekeland aan Netwerk24 gesê haar sangloopbaan het in gr. 7 posgevat toe sy solo’s op die skool se revue uitgevoer het, en die jaar daarna as Louisa von Trapp in Sukovs se The Sound of Music opgetree het. Sy het daarna in heelwat ander musiekblyspele en konserte in die stad opgetree.

Sy het drama aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer en haar toneelkuns by die Scaena-teater uitgeleef en verfyn.

“Ek het baie mooi herinneringe aan Bloemfontein, en onthou veral ons gesellige huis in Fichardtpark, met my ma se pragtige roostuin en ons perskebome vol van die geur van lentebloeisels, en my pa se operaklanke wat deur die hele huis gehoor is; my verre fietsritte vroegoggend in die yskoue winterweer, met my viool in my fietsmandjie, my boeksak op my rug en my sportsak stewig vasgebind op die agterste rakkie – en hoe ek gespook het om my fietsie oor die treinbrug te trap om betyds vir skool te wees!”

Louise du Toit en Christo Koulouridis, haar musikantman. Foto: Verskaf
Louise du Toit sing hier in “The Voice of Greece”. Foto: Skermgreep/YouTube

Haar pa, Deon du Toit, het radio-operaprogramme vir die SAUK gemaak en haar ma, Lulu, was ’n onderwyseres by die Martie du Plessis-skool. Hulle was albei baie musikaal en het saam in opera- en ander kore gesing.

Sy het Christo Koulouridis, haar musikant-man, in Athene ontmoet. Toe hul dogter, Hermine, ses jaar oud was, het hulle na Corfu verhuis. Die egpaar het ook ’n seun, Stamatis, ook ’n musikant.

“Christo se ouers was oorspronklik van Corfu en dit was ’n wonderlike geleentheid om ons as ’n familie op dié betowerende eiland te kon vestig.”

Die egpaar is reeds sedert 1997 musikante hier en tree net saans op.

Christo se ouers was oorspronklik van Corfu en dit was ’n wonderlike geleentheid om ons as ’n familie op dié betowerende eiland te kon vestig.

“Ons lewer so 200 vertonings elke jaar – so dit beteken dat ons bedags altyd vrye tyd het om tyd saam met ons familie (en troeteldiere, altyd so ongeveer 15!) te bestee, die see en natuur te geniet, musiek te maak en kreatief te wees in al ons ander kunstige bedrywighede.”

Du Toit komponeer ook musiek en doen toonsettings vir bekende digters. Sy skilder ook graag om haar herinneringe van Suid-Afrika uit te beeld.

Louna Stevens, haar beste vriendin op skool, sê sy voel oneindig oorweldig deur Du Toit se optrede op The Voice of Greece.

“Ons is só trots dat jy jou pitch perfect-stem van gehalte uiteindelik aan die wêreld kan bekend maak.

“Baie geluk, Louise du Toit Koulouridis; alhoewel jy reeds vir jare so ver weg woon, is jy oneindig na aan my en vir seker vele ander Suid-Afrikaanse vriende en familie se hart.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Griekeland  |  The Voice  |  Sing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.