Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bloemfontein se bekende klein vrou dood
Madge Bester met haar 50ste verjaardag vier jaar gelede. Foto: Charl Devenish

Bloemfontein se bekende Madge Bester (54), een van die wêreld se kleinste vroue, is in die Universitas-hospitaal oorlede.

Volgens sr. Ezelle Wilson, bestuurder van verpleegdienste in die aftreeoord Ons Tuiste in die stad, is Bester Maandag omstreeks 23:15 dood nadat sy longprobleme opgedoen het.

Bester is op 26 April 1963 in Colesberg gebore met ’n seldsame brosbeensiekte, osteogenesis imperfecta, wat haar liggaamsgroei gestrem het.

Sy was as volwasse vrou ’n skamele 65 cm lank en het net 38 kg geweeg.

Bester was volgens die Guinness Book of Records vir jare die kortste lewende, volwasse vrou ter wêreld.

Haar naam het sedert 1993 in dié boek gepryk.

As ’n Guinness-wêreldrekordhouer het sy Taiwan twee keer besoek waar sy in die Guinness-museum “gewerk’’ het deur deel van ’n uitstalling te vorm.

Sy was ook betrokke by talle mediakonferensies en het verskeie hooggeplaastes en selfs staatshoofde oor die wêreld heen ontmoet.

Bester was ’n vegter vir die regte van gestremdes en het oudpres. Jacob Zuma in 2009 op ’n vergadering met minderhede in die Bloemfonteinse stadsaal ontmoet.

Zuma het ná die vergadering hande met haar geskud en met haar gesels.

“Ek sal volgende keer vir hom vra om te kyk na gestremdes se regte. Ek gaan vir hom ’n brief skryf, ja,” het sy destyds ná die vergadering gesê.

Sy het ook ’n hart gehad vir mense wat swaarkry. Sy het vir jare wedstrydkaartjies ten bate van Volksblad se Ons gee om-fonds in die Mimosa Mall in Bloemfontein verkoop nadat die fonds haar gehelp het.

Verder het sy wolmussies en -kousies gebrei vir babas wat vroeg gebore is.

Haar begrafnisdiens is volgende Dinsdag om 10:00 in die NG kerk Aandbloem in die Ons Tuiste-sentrum in Bloemfontein.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Sterfte  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.