Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bloemfontein se Styl-vrou sterf in tronk

Skok en hartseer heers oor die dood van Lizette Berry (54), mede-eienaar van die jaarlikse Mev. Styl-kompetisie, in die Kroonstadse gevangenis waar sy tien jaar tronkstraf uitgedien het.

Berry is Dinsdag in die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad dood waar sy opgeneem is omdat sy siek was weens haar verswakte gesondheid omdat sy volgens vriende opgehou eet het.

Lizette Berry, die Bloemfonteinse sakevrou, toe sy ’n jaar gelede in die streekhof in die stad verskyn het.Foto: Alzaine Narran

Nella van Heerden, die eienaar van die Mej. Bloemfontein-kompetisie, sê sy en Berry was sowat 16 jaar lank vriende. “Ek kan niks meer verstaan op die oomblik nie. Ek kan nie verstaan waarom al die dinge gebeur het nie. Ek glo daar was nog hoop vir haar al het sy tien jaar gesit.”

Magda Crous was Berry se huidige vennoot in die Mev. Styl-kompetisie wat hulle destyds van Van Heerden gekoop het.

“Ek hoop sy rus in vrede. Sy is nou weg van die wêreld se oordeel,” het ’n baie hartseer Crous gesê.

Vriende sê Berry kon haar nie met die tronkstraf en omstandighede in die gevangenis versoen nie en het gereeld siek geword omdat sy nie meer geëet het nie.

Sy is glo die laaste tyd gereeld in die hospitaal opgeneem omdat sy siek was en het met haar dood skaars 40 kg geweeg.

Lizette Berry, eienaar van die Mev. Styl-kompetisie (regs), is in die Boitumelo-hospitaal dood terwyl sy tronkstraf van tien jaar uitgedien het. Hier is sy saam met Nella van Heerden, vorige eienaar van die kompetisie by wie sy en Magda Crous dit destyds gekoop het. Foto: Facebook.

Berry is ’n jaar gelede op 28 Junie 2017 in die streekhof in Bloemfontein tot 21 jaar tronkstraf gevonnis omdat sy R8,8 miljoen van ’n Bloemfonteinse prokureursfirma, Schoeman en Maree waar sy 12 jaar gewerk het, gesteel het.

Berry was ’n senior boekhouer by die firma.

Die staat het in haar verhoor aangevoer sy het die geld in groot bedrae van 2012 tot vroeg in 2017 uit die sake-, trust- en beleggingsrekenings van die prokureursfirma gesteel.

Agt jaar van dié vonnis was voorwaardelik opgeskort en die res was sy besig om samelopend uit te dien sodat sy effektief vir tien jaar tronk toe gestuur is.

Die 54-jarige Berry het voor die vonnisoplegging skuld beken op 166 aanklagte van diefstal, een van geldwassery, ses van vervalsing en ses van uitgifte.

Lizette Berry. Foto: Verskaf

Bloemfonteiners onthou Berry vir haar besonderse elegansie, netheid en sagte hart. Sy was ook ’n voorkomskonsultant wat met kleurkaarte gewerk het om vir vroue te vertel watter kleure die beste by hul gelaat sou pas.

Sy het vroue ook graag raad gegee oor watter tipe klere en juwele om te dra wat die beste by hul persoonlikheid en gelaat sou pas.

Haar gewese man, adv. André Berry, van wie sy geskei was, wou nie kommentaar lewer nie.

“Ons was amptelik geskei. Ek wil niks sê nie.”

Hy het haar volgens vriende gereeld naweke in die tronk besoek om haar by te staan.

Die egpaar se enigste dogter, Gabby (20), is in 2014 dood toe sy haarself aan ’n klimraam voor haar ouerhuis in Universitas-Rif in Bloemfontein opgehang het.

Gabby was in daardie stadium ’n student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en wou uiteindelik ’n veearts geword het.

Berry het ook nog twee volwasse, getroude kinders uit haar vorige huwelik wat in Gauteng woon. Hulle is Nadia Malan en CJ Bitzer.

Sy het ook vier kleinkinders.

Meer oor:  Lizette Berry  |  Bloemfontein  |  Tronk  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.