Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bloemfonteinse man sterf op Harley 100 m van sy huis

“Gaan binnetoe my skat, ek is binne vyf minute terug.”

So het Branwen Snyman (34) Sondag vroegoggend vir sy meisie gesê toe hy net gou na die vulstasie se winkel wou ry. Hy het egter op pad terug sowat 100 m van sy huis in Bloemfontein met sy Harley-Davidson-motorfiets verongeluk, sê sy pa, Francois.

Branwen SnymanFoto: Verskaf

Snyman, ’n bestuurder by die gewilde Bloemfonteinse eet-en-kuierplek The Staffordshire, ook bekend as The Staffy of Staffies, is Sondagoggend op die toneel dood verklaar.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het die motorfiets teen in ’n boom en kragkas in Langenhovenpark vasgery.

Meiring sê die nooddienste het om 06:30 op die toneel aangekom waar hulle die bestuurder en die motorfiets aan die kant van die pad aangetref het. Hy het talle beserings opgedoen en het geen teken van lewe getoon nie.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê Snyman se valhelm was nog op sy kop.

Francois sê Snyman en sy meisie, Kerrilee van Vuuren, sou ’n vroeë ontbyt hê. Van Vuuren, wat Snyman reeds tien jaar ken, het net by sy huis stilgehou toe hy vir haar sê hy gaan gou winkel toe.

Volgens Francois het Van Vuuren die slag gehoor en na die toneel gehardloop. Hy vermoed iets het gebeur wat veroorsaak het dat sy seun beheer oor die motorfiets verloor het.

Francois sê dit was sy seun se droom om ’n Harley-Davidson-motorfiets te besit. Hy het uiteindelik die motorfiets teen middel verlede jaar aangeskaf en aanpassings daaraan aangebring.

Die pa beskryf Snyman as iemand wat mense se lewe geraak het.

Branwen Snyman was ’n opgewekte mens wat niks halfhartig gedoen het nie, sê sy pa, Francois.Foto: Verskaf

“Hy het dadelik ’n indruk op jou gemaak en ’n humorsin gehad wat skrik vir niks. Hy was opgewek en uitgaande en het niks halfhartig gedoen nie.”

Francois glo Snyman se werk op aarde was nie klaar nie.

“Hy het nog baie gehad om te doen.”

Snyman, wat in Bloemfontein grootgeword en ’n oudleerling van Grey-kollege was, was geliefd en welbekend, sê sy pa.

Charmaine Aboud van Staffies sê Snyman het as bestuurder gewerk sedert dié onderneming sy deure ’n paar jaar gelede oopgemaak het.

“Almal het hom gelove! Hy was verskriklik goed met die klante.”

Aboud sê hy was ’n harde werker wat nie omgegee het om met ander take by die werk te help nie.

“Hy was Mnr. Persoonlikheid.”

Sy sê hy was baie erg oor plante en dat hy dié by Staffies versorg het.

“Dit was sy plante.”

Aboud sê sy dood het die mense van Staffies geruk.

Snyman laat ook sy ma, Elaine, en suster, Minuche, agter.

’n Roudiens word Vrydag om 12:30 in die Hebron-kerk in Andries Pretoriusstraat in die stad gehou, waarna verversings ter viering van sy lewe by Staffies geniet sal word.

Branwen Snyman en sy ma, Elaine.Foto: Verskaf

Meer oor:  Harley Davidson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.