Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Blomme ’n jaar ná sterftes by Voëlklip

Etienne Scheepers en die nuwe vrou in sy lewe het Donderdag blomme gaan neersit by Voëlklip in Heroldsbaai, waar sy vrou, Heidi (35), en hul twee kinders ’n jaar gelede tragies gesterf het.

Etienne Scheepers by die blommeruiker op Voëlklip. Foto: Kristy Kolberg, George Herald

Die 35-jarige ma en haar kinders, Cozette (6) en Hugo (2), het op 22 Oktober 2019 vermis geraak. Kort hierna is haar silwer Volkswagen Caravelle onderaan die voet van ’n krans by die gewilde uitkykpunt gevind.

Hugo, steeds vasgemaak in sy rystoeltjie, was in die see naby die motorwrak. Sy ma se lyk is vier dae later in die see naby die vakansiedorp gekry, maar Cozette is nooit gevind nie.

Die afgelope Donderdag het ’n klein groepie mense ’n blommeruiker naby die krans geplaas. Onder die krans het die see woes gemaal, maar dieper die see in het twee dolfyne in die deinings baljaar.

Op ’n groot pienk hart omring met blomme het die wewenaar en sy gestorwe gesin se name gestaan. “Rus sag” en “RIV” is geskryf langs ’n prentjie van biddende hande. Om die hart was wit asters en rose.

Moolman het glo haar man gelos.

Scheepers, geklee in ’n kortmouhemp, kortbroek en tekkies, het Susan Fungai, sy huiswerker, getroos waar sy saggies gestaan en huil het. Hy is ook deur twee broers, ’n skoonsuster en ’n dogtertjie ondersteun.

Kerse is in ’n gewyde stilte aangesteek en by die ruiker geplaas. Van die familielede het Scheepers lank omhels.

Die seremonie was ná tien minute verby en die voertuie het die kronkelpad terug na Heroldsbaai geneem.

Nazisca Moolman, ’n niggie van die gestorwe Heidi, het deurentyd op ’n afstand gestaan.

Sy kom van die Vrystaat af en woon glo die afgelope weke by Scheepers. Sy het glo haar man, ’n Vrystaatse boer, daar gelos om meer tyd in die Suid-Kaap deur te bring.

Nazisca Moolman en Etienne Scheepers by Voëlklip.

Scheepers het verlede maand aan die George Herald gesê sedert sy vrou se dood is Moolman sy “grootste ondersteuner”. “Sy het my bygestaan van die begin af en ons het ’n baie sterk emosionele band begin vorm. Sy was regtig daar vir my.

“Ek sal altyd lief wees vir Heidi en ek sal altyd na my gesin verlang, maar ek kan nie vir die res van my lewe in sak en as sit nie. Ek weet nie wat mense verwag nie, maar totdat hulle nie in my skoene was nie, moet hulle liefs nie oordeel nie. Niemand kon voorspel wat gebeur het nie.”

Moolman publiseer gereeld foto’s van haar en Scheepers op sosiale media. Op ’n foto met haar en die wewenaar op Instagram sê sy: “(hartjie) Dankie dat jy myne is (hartjie).”

¦ Volgens die polisie word die omstandighede waarin die voertuig daardie dag oor die krans is, steeds ondersoek.

Meer oor:  Heidi Scheepers  |  Ettienne Scheepers  |  Voëlklip  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.